Dr. Andrew Weil, ’n mediese dokter van Harvard wat hom op holistiese gesondheid toespits, glo ’n goeie nagrus is so maklik soos in- en uitasem en het gevolglik die 4-7-8-asemhalingstegniek ontwikkel.

Dis deels gegrond op meditasie, oftewel die Pranayama, ’n antieke Indiese praktyk wat fokus op die regulering van asemhaling. Baie ondersoeke dui op ’n verband tussen meditasie en laer stresvlakke, en hierdie maklike oefening sal jou die voordele help ervaar wat die konstante beoefening van hierdie praktyk inhou.

Maak so:

Druk die punt van jou tong net agter jou voortande teen jou verhemelte. Hou dit deur die loop van die oefening daar.

  1. Asem deur jou mond uit terwyl jy ’n “whoesj”-geluid maak.
  2. Maak jou mond toe en asem vir vier tellings deur jou neus in.
  3. Hou jou asem vir sewe tellings op.
  4. Asem agt tellings lank deur jou mond uit terwyl jy ’n “whoesj”-geluid maak.
  5. Dit geld as een asemteug. Asem nou weer in en herhaal drie keer sodat jy altesaam vier siklusse voltooi.

Andrew sê ’n mens kan staan, sit of lê terwyl jy so asemhaal, maar probeer so regop moontlik sit as jy sit. Hy beklemtoon ook die belangrikste deel van hierdie proses is om jou asem vir sewe tellings op te hou; op dié manier vul die suurstof jou longe en beweeg van daar deur jou liggaam.

Hierdie vloei van lug het ’n kalmerende uitwerking. As jy dié tegniek wil vervolmaak, raai Andrew jou aan om dit vir ses tot agt weke twee keer per dag te beoefen.

Hy belowe dit sal selfs doeltreffender wees sodra jy dit bemeester het. Dié tegniek kan ook gebruik word om ’n mens se eetlus te bedwing en om spanning en ander stresvolle situasies beter te hanteer.

Volgens die Nasionale Slaapstigting van Amerika moet gesonde volwassenes elke aand agt uur se slaap probeer inkry.

© Cover Media