Divertikulitis kan dodelik wees. Die siekte wat Steve Hofmeyr se pa se dood gekos het, het hom amper vroeër vanjaar ook opgeëis, maar uit dié krisis het 'n ommekeer gekom

" 'n Bose gees van pyn." Dis wat hy onthou, sê Steve Hofmeyr van die keer toe die abses in sy dikderm oopgebars en hy alleen daar in sy hotelkamer op Standerton geweet het: Vannag oorleef ek dit nie. Natgesweet en ineengekrimp van die pyn het hy net ná drie die Sondagoggend op sy knieë na sy rekenaar gekruip en vir Natasha, sy vrou, 'n brief getik: Asseblief, dís wat ek dink ek makeer, dis die toetse wat reeds op my gedoen is – as ek my bewussyn verloor, weet dit net . . .

Eers toe dit lig word, het die pyn effens skietgegee en kon Steve weer regop kom. Hy het by die lede van sy toergroep ingebars: "Help my! Doen iets! Enigiets!"

Hulle het nie gespeel nie. Eers pynstillers by die kliniek op Standerton gekry, toe deurgejaag Johannesburg toe, vier uur lank oor 'n stamperige pad. By die huis aangekom, het Natasha Steve net een kyk gegee: "Julle is almal mal! Hy moes lankal by die hospitaal gewees het!"

"Sy't nie eens vrae gevra nie, sy't net onmiddellik met my gejaag," sê hy. "Daardie sondagmiddag vyfuur, die vierde Mei, was my grootste konfrontasie met die dood tot dusver." Met verganklikheid, sê die blik in sy oë.

"Jy sê vir jou kinders tot siens, jy sê vir jou huis tot siens. Jy onthou van jou pa en hoe hy gesterf het. dit kan vir altyd tot siens wees. Jy haal diep asem en jy ry hospitaal toe en sê vir die dokter: 'Jy kan maar sny . . .' ''

Dis ses weke later. Ons sit by steve op sy kleinhoewe in Midrand. Hy's vol grappies en lyk blakend gesond. Sewe kilogram ligter ook. In die oprit staan sy waarmaker-toerbus en wag tot steve weer steve is. En dis nie meer lank nie, sê sy hele houding.

"Op my graf sal daar eendag staan: Moenie die stilte vertrou nie. I'll be back!" Stilte en Steve? Nie twee dinge wat saamgaan nie.

Geraas is wat hy ken. Gillende aanhangers en skreeuende koerantplakkate. Die suising in sy ore van hoë bloeddruk en adrenalien. Die ontploffings van bomme wat bars oor sy privaat lewe.

Die jongste sarsie: Die fiksheidsinstrukteur Janine van der Vyver (28) wat begin vanjaar onthul het sy was tien jaar lank sy minnares. Koerantopskrifte het dit uitbasuin: "Minnares dagvaar Steve"; "Dis hoe dit was . . . onthul gim-skone in ope brief aan Steve."

Steve wat terugslaan met 'n tirade wat veertien f-woorde bevat. Mediaberigte het die krisis in sy lewe van alle kante belig. Die land wou wéét – en wou saampraat. Dit was soos petrol op die vuur vir die spanning wat reeds sedert verlede jaar besig was om sy lyf van binne af op te vreet.

Sy lewe het geword "vallende tetrisblokkies wat ure tussen my en slaap teen die plafon kom skree het", sê sy laaste blog. Dis 'n brein wat nie weet van stil word nie. Nou probeer hy hard om af te skaal en af te skakel.

Hy sit gemaklik agteroor in die sitkamer wat jy nie anders kan as om gesellig te noem nie, sy linkerarm beskermend oor die plek waar die stoma-sakkie teen sy lyf vas is. (Dié is sedert ons onderhoud suksesvol verwyder en die dikderm weer geheg.)

Sy agent sit 'n skinkbord tee voor ons neer. Sy smaak vir koffi e en sterk drank het hy daardie aand met die konsert op Standerton verloor, net voor die pyn hom gegryp en nie laat los het nie.

Die waarskuwingstekens was eintlik lankal duidelik: "Ek het met pyn op die verhoog gegaan met daardie laaste vier optredes in Mei by die Deur-die-mikkekonsert waar daar 30 000 mense was.

Jy stap net op en jy sing, en sing is 'n vreemde ding – jy vergeet van die pyn en 'n uur en 'n half lank is daar niks nie. Maar af van die verhoog af kom hy saam met jou terug. Dan sê jy vir jouself, hoe de hel het ek konsert gehou?"

Daarvóór, al in September verlede jaar, het hy bewus geword daarvan dat die pyn elke dag met hom saamloop. 'n Bloedtoets en skanderings is gedoen, maar nie 'n kolonoskopie of ander spesifieke ondersoeke nie.

"Hulle het gevoel en gedruk en niemand het antwoorde gehad nie. Die pyn het later vanself verdwyn." By die Johannesburgse hospitaal waar hy toe in Mei opgeneem is, het die verpleegsters stil geword toe die bloedtoetse kom en saggies by sy kamer uitgeloop.

''Toe kom die dokter in en kyk vir my en sê: 'Dis geperforeerde dikderm verbý hierdie!' " Dis dieselfde siekte waaraan sy pa, ook Steve, op 46 oorlede is toe Steve net 23 was.

Divertikulitis ontstaan wanneer klein ballonagtige uitstulpings in die dikderm vorm en later ontsteek. Dit word peritonitis as dié absesse deur die wand van die dikderm vreet en die hele buikholte besmet. Dodelik.

"My pa het net 'n paar uur te laat inge- gaan, dis al. Dis hoekom hy nie uitgekom het nie. Die ontsteking was te ver gevorder," sê Steve en vir 'n oomblik lyk hy weerloos.

"Hulle sê dis nie oorerflik nie. Dis net toeval dat ons albei dit gekry het. Wat wel geneties is, is hoe jy jou spanning verwerk. Uiteindelik raak jy siek van 'n lewenslange opvlieëndheid, 'n drif."

Die oomblik toe hy sy oë in die waaksaal oopmaak, toe sê hy vir homself: Jy het ekstra genade gekry, 'n ekstra kans. Jou pa het dit nie gekry nie. Nou moet jy jou afvra wat is belangrik.

"Die antwoord is maklik: om saam met my kinders 'n bal rond te skop in die park." Daar was drie ander kere in sy lewe, sê Steve, dat hy al gevoel het hy wil doodgaan van stres en van werk.

"Die eerste keer was in 1988 toe die storie van my buite-egtelike kinders gebreek het. Ek het selfmoord probeer pleeg en my probeer vergas. Maar dis lank gelede en pla my glad nie meer nie."

In 1997 was dit oor werk. "Ek het gesing, op drie vastelande getoer, baklei en verloof geraak. In 2005 het ek 'n joernalis by die KKNK gebliksem en daarna was dit die sinodedebat toe ek ter ondersteuning van gays gepraat en die hele land omtrent teen my gedraai het.

"Dis jare waarin ek eintlik al moes doodgegaan het. Maar dit is uitgestel tot vanjaar toe. Vier van my lewens is nou verby."

Ons wil jou afneem, Steve, vir die voorblad, met pyle deur jou lyf, sê ons op dié punt vir hom. Soos Sebastiaan die martelaar. Al die pyle van jou siektes, die pers en kritiek van die publiek in jou lyf. Sal jy staan? Hoe oop is jou kop?

"Wawyd oop!"

Gaan dinge nou anders wees, Steve? Gaan jy kritiek – en nie álles was onverdiend nie – nou anders hanteer?

"Ek werk al twintig jaar, en oorgee is nie vir my 'n keuse nie. Ek is een van daai ouens wat daarvan hou om te baklei. Ek love konflik en ek floreer daarop as dinge verkeerd loop. Ek verwag eintlik dinge moet verkeerd loop."

"Dit gaan 'n *** dag wees, dink ek voor die tyd. As dit nie is nie, score ek. Daar gaan niemand by die konsert wees nie, dink ek. En dan sit die saal tjok-en-blok vol. Só hou ek my aan die gang, dis hoe ek lewe – maar dis 'n vreeslike wroeging waardeur jy jou liggaam en jou brein sit."

"Nou is ek klaar daarmee. Ek hoef nie meer die Afrikaner te red nie. Hy sal homself red. Ek hoef nie meer die taal te red nie. Hy sal homself red. Stop die blog! Moenie te kwaad raak vir die regering nie. Los Jacob Zuma vir 'n week uit."

Sal moeilik wees, ja, gee hy toe. Hy't gewoond geraak aan die geruis in sy ore wanneer hy baklei en debatteer en aangaan en op die verhoog is.

"Ek sê vir myself ek kan nie aangaan sonder daai geruis in my ore nie. Dis my drug, jy weet. Ek het dit besef juis toe ek in die hospitaal lê. Met my pelle om my bed het ons soos gewoonlik lekker woes gepraat, en toe almal waai, kom meet hulle my bloeddruk en dit is deur die dak."

"Die verpleegter faint amper: 'O hel, dokter, wat kan ons vir hom doen?' Hoë bloeddruk! Dis toe al die tyd waar die geruis in my ore vandaan kom. Ek love dit, dis amper soos 'n dwelm. Jou woorde kom net reg uit, jy's skerp."

"Jy kan omtrent nie jou fight verloor nie. En dit is wie ek is. Dis die drif wat my uitdagend maak, wat my kreatief maak." Maar nou weet hy dit moet end kry.

"Ek het gestop met alles wat my opgewonde maak. Ek het opgehou daarmee. Dit is verskriklik. Ek mis klaar die geruis in my ore. "Ek dink nie enige ou sal dieselfde wees ná so 'n ondervinding nie."

Maar dit beteken nie hy gaan lê en mense kan maar oor hom loop nie. "My opinies het nie verander nie en ek gaan nog vir die volgende dertig jaar my vyand se vyand wees. Ek gaan 'n bakleier wees tot ek omval."

"Ek kan nie ophou worry oor die Afrikaner nie. Maar op 'n geestelike vlak gaan ek nie toelaat dat goed my irriteer nie. Ek gaan dit van my afskud. Water van 'n eend se rug. Net so, sjóéps!"

Dit lyk asof Steve dit bedoel, so met 'n kat op sy skoot. Die dag toe hy by die hospitaal uitloop, het hy vir hom twee katte gekoop. Vir die lekker warmte op sy maag, grinnik hy. Jy moet nou vlieërs bou en visvang, het die dokters oor en oor vir hom gesê. Vlieërs bou en visvang ken hy nie, maar katte streel, dit kom vanself!

Hy's nog onwennig met die nuwe lewenstyl, maar hy gee dit 'n kans. "Ek wens ek kon vir jou sê daar was 'n eureka!-oomblik waarin alles opeens verander het. Maar ek voel amper magteloos oor die feit dat ek nie regtig weet wat om te doen nie."

Weer die amper kinderlike eerlikheid: "Ek het gewoonlik nie hulp nodig om in my donker plekke te gaan rondsnuffel nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek nou depressief gevoel. Daar's kere dat ek besef ek sit net en staar. Na niks nie. Baie on-Steve."

Hy sit daar onder die groot foto's van sy gesin, van hom, Natasha, Sebastian (6) en Benjamin (5), wat oral in die huis hang. Die trauma het Steve en Natasha nader aan mekaar gebring.

"Die enigste positiewe ding in my 2008-annus horribilis is dat ek en Natasha mekaar van voor af leer ken en geniet. Sy is 'n fenomenale verpleegster."

Intussen, met skielik so baie vrye tyd, leer Steve sokkerreëls sodat hy dalk eendag sy seuns se sokkerspan kan afrig. Wat hy nou nodig het, is om dié dinge te doen wat hy geniet en sy outobiografie klaar te skryf.

"Twee hoofstukke oor teologie, twee oor vroue – dis baie lekkerder as mense moer!" Om nie soveel te traak oor wat mense van hom dink en sê nie. Minder drieletterwoorde, meer poësie.

Poësie is nog altyd vir hom baie belangrik? Sy glimlag is bedoel om jou te ontwapen, sy antwoord nog meer: "Vir 'n kwaai ou wat joernaliste slaan, is dit nogal vreemd, want die digkuns is die grondslag vir verdraagsaamheid."

In sy wese, sê-praat hy so half met homself, is hy 'n alleenloper. "Ek gaan doodgaan met 'n boek op my skoot, iewers. My vrou sê dis hoe ek vir die werklikheid wegkruip."

"Dis ook hoekom ek so baie van flieks hou. Ek word ingeslurp deur die vrotste flieks, en huil oor Disneyprente. Ek is seker maar iets van 'n sentimentele slet. 'n Smartvraat."

"Ek sit en kyk nou die dag saam met my vrou The Amazing Race en ek raak wild histeries, mal daaroor! Maar dis nie hoekom ek dit kyk nie. Ek kyk dit omdat ek by my vrou is, en die kinders hier by ons is, en ons saam eet en sommer sports maak. Dis wat ek 'n bietjie misgeloop het."

Hy weet hy het sy lewe wanbestuur, sê hy. Daar is dus die "geestelike verstellings". En die lewenswyse-aanpassings – waaraan hy werk, want: "Sielkundige wrak wat ek is, moet ek nou my perke ken!" En dan is daar die saamleef met die stoma-sakkie, wat hy met humor regkry.

Die operasie het behels dat die dokter met 'n lang snit oor die linkerkant van sy maag sy dikderm oopgesny en skoongespoel het om die bakterieë uit te was. Die onderste deel van sy dikderm is tydelik toegebind en die boonste deel het in die stoma-sakkie op sy maag geëindig.

Met ons onderhoud moes Steve nog die sakkie drie tot vyf keer per dag skoonmaak, maar hy het al weer liggies gedraf en oefeninge met ligte handgewigte gedoen. Hy kan enigiets doen, vertel hy, tot tennis speel met die sakkie. Net nie rugby nie!

Hy blog nou wel nie meer nie en sit ook nie tot watter tyd in die nag by sy rekenaar nie, maar getrou aan homself het Steve klaar die kuberspoor van die kolostomiekultuur gesny.

"Daar is selfs 'n webwerf met die naam Colostomy Land en een genaamd Poop Culture. Dis sulke dertigjariges wat rondloop met hierdie sakkies en dan neem hulle dit af en hulle wys hoe maak hulle dit skoon en musiek speel in die agtergrond . . .

"Ouens wat dink dis moerse fun. Maar dis natuurlik 'n baie meer algemene ding onder ouer mense."

Steve is nog jonk genoeg dat sy dikderm weer geheg kon word. Dank die vader tog, sê hy. As hy ouer was, sou hy die res van sy lewe die sakkie moes dra.

"Dis soos 'n lelike Siamese tweelingboetie (die stoma-sakkie) wat jy met jou saamsleep. Dit los ook winde wat jy nie kan keer nie. Jy staan hier in die middel van mense en jy hoor net prrrrp! My kinders lag, hulle dink dis baie snaaks.

"En luister, ek het al op die grens lyke rondgesleep, maar dít, as jy hierdie ding oopmaak, is net die verskriklikste reuk."

Hy luister vir die eerste keer regtig na sy liggaam. "My oor lê soos 'n stetoskoop op my lyf. Ek is so skrikwekkend bewus van alles wat in hom aangaan. Ek weet wat kom in en ek weet hoe dit uitkom."

"Mangosap vat byvoorbeeld die reuk weg. Ek het voorheen nie eens 'n clue gehad van 'n gesonde dieet nie, ek wou net braai en brandewyn drink. Nou dink ek daaroor.

"Ek weet steeds nie hoe om die stres regtig te vermy nie. Wat ás dit inherent is, wat ás dit geneties is dat ek opvlieënd is? Want ek gló dit. Moet ek my nou maar regmaak vir die hartaanval?"

'n Lewe van matigheid is wat nodig is, sê hy, weer eens meer vir homself as vir ons. Dan, weer uitdagend: "Maar ek weet steeds dit is altyd die moeite werd om te baklei vir dit wat vir jou heilig is."

Hy't reeds baie geleer uit wat veral die afgelope jaar met hom gebeur het. "God het nie in my lewe ingegryp op 'n Ou Testamentiese manier, soos van my bloglesers sou wou gehad het nie. Jesus het nie net sy hand op my skouer kom sit en gesê Hy gee my nog so 'n paar jaar nie. Dis groter as dít …

"Dis die gevoel van genade wat ek gekry het toe ek ná die operasie wakker word en vir Natasha sien. Dis hoe ek God verstaan. As genade. Die lewe is nie wit of swart nie. Dis meestal grys. En onvoorspelbaar."

'n Mens moet binnetoe kyk, weet hy nou, en dit help om hom kalm te maak. "Ek het 'n konfrontasie gehad met die verganklikheid. En ek het daar uitgeloop met genade, met grace. Die antwoorde is nie altyd duidelik nie en die uitkoms dikwels 'n geheimenis."

Ken jou dikderm

Divertikulitis is nie al wat met jou dikderm verkeerd kan loop nie, maar gelukkig is alle dikdermsiektes nie ewe gevaarlik nie. Hier is 'n gids oor dié siektes.

Spastiese kolon (prikkelbare- dikdermsindroom)

Wat is dit? Dit is 'n siekte waar die dikderm hewig saamtrek en krampe veroorsaak. Die oorsaak is onbekend. Die simptome is maagkrampe, opgeblasenheid ná 'n ete, winderigheid en 'n wisseling tussen hardlywigheid en diarree.

Die behandeling Die stapsgewyse behandeling sluit in beter streshantering, dieetaanpassings (soos om meer vesel te eet as jy hardlywig is en ryk, vetterige en speseryryke kos te vermy) en die gebruik van medisyne om die dermspasmas te verlig.

Divertikulose (Divertikulêre Siekte)

Wat is dit? Met divertikulose vorm uitstulpings op swak plekke in die dikdermwand. Die simptome kan ligte krampe wees, opgeblasenheid, hardlywigheid en diarree. Enkele mense het rooi of donker bloed in hul stoelgang.

In sowat een uit vyf mense kan die uitstulpings ontsteek (divertikulitis) en selfs oopbars en deur die dikdermwand lek. Die simptome is dikwels pyn, koors en kouekoors. In baie ernstige gevalle ontwikkel lewensgevaarlike buikontsteking (peritonitis).

Die behandeling 'n Dieet met baie vesel en vloeistof help vir die meeste mense. Ander het teenspasmamiddels nodig. Divertikulitis word met antibiotika behandel.

Ernstige gevalle benodig 'n antibiotikadrup in 'n hospitaal. In baie ernstige gevalle word 'n deel van die dikderm uitgesny. Hardlywigheid moet te alle tye voorkom word. Vermy lakseermiddels en pynstillers met kodeïen omdat dit jou dermbewegings stadiger maak.

Ulseratiewe kolitis en Crohn-siekte

Wat is dit? Albei is inflammasie-siektes wat deur 'n foutiewe immuunstelsel veroorsaak word en gekenmerk word deur fases van aktiwiteit en remissie. Moegheid, gewigsverlies, swak eetlus en koors is simptome, en in die geval van Crohn se siekte kan absesse in die buikholte vorm wat naarheid, diarree, braking en rektale bloeding veroorsaak.

Die absesse kan na ander organe lek, selfs deur die vel na buite. Komplikasies soos artritis, lewersiektes, osteoporose, veluitslag, bloedarmoede en nierstene is ook algemeen.

Die behandeling Die siekte word met kortisoon onder beheer gebring. Slegs enkele mense benodig 'n operasie. Daar is geen spesifieke dieetaanpassings nie. Vermy bloot die kosse wat jou ongemaklik maak.

DikDermkanker

Wat is dit? Dis 'n aggressiewe soort kanker wat maklik na ander organe versprei as dit eers deur die dikderm gedring het. Die meeste gevalle van dikdermkanker spruit uit poliepe, goedaardige uitgroeisels van die dikdermwand.

Poliepe kom algemeen onder mense ouer as sestig voor en net een uit honderd mense se poliepe sit om in kanker. As 'n dokter egter 'n poliep sien, sal hy dit dadelik verwyder en laat ontleed, en die res van die dikderm fyn bekyk.

Die simptome hang af van watter deel van die dikderm aangetas is. As dit in die laaste deel van jou dikderm is, verander jou dermaktiwiteite (jy is hardlywig of het diarree en dalk bloed in jou stoelgang), jy voel opgeblase, moeg en verloor gewig.

Jy het pyn en bloeding as dit in die rektum is. Jy het bloedarmoede, hartkloppings of selfs borskaspyn as dit in die boonste deel van die dikderm is.

Of, as die kanker aan die regter-bokant van jou dikderm is, kan jy die eerste keer maagpyn kry of moeg voel as die kanker reeds na die lewer en ander organe versprei het, en die gewas so groot is dat dit 'n obstruksie veroorsaak.

Die behandeling Dit kan 'n operasie en chemoterapie insluit en word bepaal deur die gevorderdheid van die kanker.

Besoek Beslis jou dokter as:

jou maagpyn erg is; .

die pyn ure lank aanhou; .

dit gepaard gaan met koors; .

jy bloedarmoedig word; .

jy onverklaarbaar gewig verloor; .

jou stoelgang donkerrooi, swart of slymerig is; of.

jy 'n familiegeskiedenis het van divertikulose, Crohn se siekte, ulseratiewe kolitis of dikdermkanker, al het jy geen simptome nie. As een van jou ouers voor die ouderdom van vyftig dood is aan dikdermkanker, is daar 'n 50 persent-kans dat jy dit kan ontwikkel. Kinders van sulke ouers moet liefs vanaf 22-jarige ouderdom elke jaar ondersoek word vir tekens van poliepe of selfs vir ander soorte kanker.