Martie Geertsema ly aan pulmonêre hipertensie. Sy vertel haar storie aan Huisgenoot.com

Ek benodig ’n dubbele longoorplanting en tot ek my nuwe longe kan kry, is die medisyne wat ek nodig het, uiters duur.

Ek het mediese versekering. Om die waarheid te sê het ek uitstekende mediese versekering. Maar min mense weet van my siekte en hulpbronne om dit te help bestuur is moeilik bekombaar.

Uit 17 moontlike terapieë wat my kan help het ons slegs tot een toegang in Suid-Afrika. En die een werk net nie meer goed genoeg nie.

“Jy lyk nie siek nie,” sê mense heeltyd vir my. Ek is mal oor die kompliment. As iemand op die oorplantinglys, wat hoogstens tydelik deeltyds kan werk, wat dokters, apteke en hospitale gereeld besoek en dit uitputtend vind om te stort, maak dit my hartseer.

Suid-Afrika het een van die laagste orgaanskenkerpersentasies ter wêreld, met minder as een persent van die bevolking wat as orgaanskenkers geregistreer is.

Dit is moeilik om te skat hoe lank ek sal moet wag en my bekommer daaroor dat ek nie my lewensreddende, interim-medikasie kan bekostig nie. Pulmonêre hipertensie is ’n maand voor my 40ste verjaardag in Januarie 2014 by my gediagnoseer. Dit was heeltemal onverwags.

Lees ook: Parkinsons: Die siekte wat gewoonlik met ’n bewerige hand begin en talle onkant vang

Ek was altyd baie aktief. Inteendeel, op hoërskool het ek twee keer aan die nasionale netbalkampioenskappe deelgeneem as deel van die provinsiale span en ek is eenkeer na die nasionale hoërskoolatletiekbyeenkoms. Ek het nie ’n medalje gewen nie, maar ek was daar.

Namate ek ouer geword het, het ek myself wysgemaak dat ek onfiks is; ek was gereeld uitasem. Om ’n stel trappe te klim het regtig moeilik geraak.

Wanneer vriende my uitgenooi het, het ek dit verkies om eerder met ’n boek of voor die TV tuis te bly want die idee om na ’n piekniekplek te stap, het te moeilik geraak.

Ek het nog nooit van skoene koop gehou nie, want so lank as wat ek kan onthou het my voete en enkels altyd geswel en het ek blase gekry.

Ek is eintlik meer van ’n handsakmeisie. Ek het ook meer gereeld lighoofdig geraak, maar is dit nie wat te veel koffie aan jou doen nie?

Min het ek geweet dat hierdie klaarblyklik onskuldige aanduidings van gevaar wat in my liggaam broei, eindelik ’n siekte sou wees waarvan ek nog nooit gehoor het nie.

Pulmonêre hipertensie het niks te doen met hoeveel sout jy eet of hoë bloeddruk nie.

Inteendeel, niemand weet wat dit veroorsaak nie en om dié rede is daar steeds nie ’n geneesmiddel nie.

Lees ook: ‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Dit is wanneer die klein are in jou longe begin verhard en toegaan. Hulle sterf as’t ware.

My longe kan om daardie rede nie genoeg suurstof produseer nie en daarom moet my hart ekstra hard pomp.

Pulmonêre hipertensie word mettertyd erger en meer en meer are in my longe gaan dood.

Dit is ook hoekom dit moeilik is om simptome te herken en om vroeg gediagnoseer te word.

Wanneer my hart te lank oorwerk word, vergroot die regterkant van my hart op dieselfde manier wat enige ander spier sal vergroot wat jy aanhoudend oefen. Die verskil is, groot biseps sal jou nie doodmaak nie.

As pulmonêre hipertensie nie gediagnoseer, nie behandel en nie gemonitor word nie, lyk dit net asof mense aan “skielike, onverklaarbare hartaanvalle sterf”.

Dit is moeilik om verseker te weet hoeveel mense pulmonêre hipertensie het, maar op die oomblik is dit by sowat vyf persent van die Suid-Afrikaanse bevolking gediagnoseer. Daar is dus meer van ons as wat ek gedink het. Jy kan ook een wees.

Is daar enige goeie nuus? Ja en nee. Die simptome kan met medikasie behandel word en navorsing toon ’n kombinasie van verskillende klasse medisyne blyk die pad vorentoe te wees.

Ons probeer pasiënte op meer as een van die 17 behandelings terselfdertyd plaas, maar die papierwerk is verlammend en alles voel soos ’n stryd.

Ek sal veel eerder die energie wat ek het op vriende en familie en werk bestee. Dalk neem ek nog eendag aan die Amazing Race deel!

Hierdie storie is deur een van ons lesers ingestuur. Dis effens geredigeer en bygewerk.

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Die porsiebeheerdieet – die dieet wat werk!

Dis wat sal help om daai kankerstokkie vir goed dood te druk

Hoe weet jy of jou kind dalk ’n bril moet dra?

Testikulêre kanker: Wat elke man moet weet

Verloor só gewig sonder om enige kos uit te sny