Goeie nuus as jy graag aan biefstuk weglê – jou liefde vir hoëproteienvleis kan jou dalk teen ’n hartaanval beskerm.

Daar is in ’n nuwe Amerikaanse studie bevind ’n proteïenryke dieet verlaag jou risiko vir hoë bloeddruk. Mense wat 102 g proteïen per dag eet se kans om hoë bloeddruk te ontwikkel, daal met 40 persent, vergeleke met dié wat die helfte daarvan eet.

As jy dalk hulp nodig het om dit voor te stel – 120 g is gelykstaande aan sowat vier biefstukke per dag. Vesel is ewe voordelig – ’n dieet met baie proteïen en vesel kan selfs die risiko vir hoë bloeddruk met 59 persent verminder.

Die nuwe studie, wat in die American Journal of Hypertension gepubliseer is, het 1 361 mense gemiddeld 11,3 jaar lank dopgehou en gekyk of hulle hoë bloeddruk ontwikkel. Daar is bevind dat sowel plant- as diereproteïen doeltreffend was. Dit was voordelig vir sowel mans as vroue en mense van enige gewig. Die teorie is dat baie proteïen ons gouer versadig laat voel, wat veroorsaak dat ons minder hoë-kaloriekos wil eet.

Justin Buendia, die outeur van die studie en ’n doktorsgraadstudent by die Boston-universiteit se skool vir medisyne, het aan Yahoo news gesê: “Dit kan dalk wees dat mense wat meer proteïen eet in die algemeen gesonder diëte volg. As jy meer proteïene eet, sal jy dalk minder ander kaloriebelaaide kosse eet. Jy voel dalk gouer versadig en dit lei tot ’n laer gewig, wat voordelige metaboliese gevolge, soos laer bloeddruk, inhou.”

Die aminosure in proteïen kan nog ’n rede vir laer bloeddruk wees. Die aminosuur arginien kom voor in produkte soos eiers en kan bloedvate help swel. “ ’n Eier of melk vir ontbyt is ’n goeie manier om die dag te begin. Wat peuselhappies betref, kan jy jogurt of ’n klein stukkie kaas of ’n hand vol neute pleks van ’n pakkie skyfies of brood eet,” sê hy.

Maar soos met enigiets, moet jy matigheid voor oë hou. Daar is al in botsende studies bevind ’n dieet wat te ryk is aan diereproteïene kan jou kans vir kanker verviervoudig. Maak dus seker jy volg ’n gevarieerde dieet en sluit proteïene by minstens een van jou etes elke dag in.

© Cover Media