Om wakker te word ná ’n rustelose nag, is beslis nie aangenaam nie. Dit kan ’n stryd wees om uit die bed te kom en nog moeiliker wees om gedurende die dag wakker te bly. Om die waarheid te sê, dit kan selfs erger wees, want daar word beweer selfs net een slapelose nag het ’n dramatiese uitwerking op jou liggaam.

Volgens 'n span Sweedse wetenskaplikes kan ’n tekort aan nagrus die gene verander wat jou biologiese horlosie beïnvloed. Dit veroorsaak dat jou eetlus, liggaamstemperatuur en brein se werking verander.

Tydens die navorsing het 15 gesonde mans by twee verskillende geleenthede twee nagte by ’n laboratorium gebly. Hulle is lukraak toegelaat om tydens hul verblyf een nag te slaap en die ander nag is hulle wakker gehou. Hulle moes ook in die bed bly, en dinge soos lig en hul voedselinname is streng gereguleer.

Ná hul tweede verblyftydperk is weefselmonsters van hul maagvet en dyspiere geneem aangesien dit die plekke is wat baie vertel oor jou metabolisme en bloedsuiker. Hul bloed is ook getrek voor en nadat hulle ’n suikeroplossing ingeneem het in die hoop dat hul insulienvlak sal toon of hulle ’n verhoogde risiko vir diabetes gehad het.

Nadat dit ontleed is, is bevind slegs die een nag se onderbroke slaap het ’n invloed gehad op die gene van hul biologiese horlosie.

Epigenese is die bestudering van hoe omgewingsfaktore veroorsaak dat gene aan- en afskakel en hoe die selle afleidings daaruit maak. Dit is wat die wetenskaplikes by die Universiteit van Uppsala en die Karolinska-instituut in Swede nagevors het. Hulle het bevind mense wat van slaap ontneem is, is op ’n genetiese vlak geraak.

“Hierdie veranderinge kan moontlik teruggestel word nadat die mens een of meer nagte ’n goeie nagrus geniet het,” het dr. P. Cederness, die hoofskrywer, in ’n verklaring verduidelik.

“Aan die ander kant is daar bewerings dat epigeniese spore in staat is om ’n soort metaboliese geheue te fungeer, en daar is bevind dit word gewysig by bv. skofwerkers en mense wat aan tipe 2-diabetes ly.

“Dit kan beteken dat minstens party soorte slaapverlies of lang wakkerblytye, soos in skofwerk, kan lei tot veranderinge in die genoom van jou weefsels en dit kan jou metabolisme langer beïnvloed.”

© Cover Media