Die navorsingstuk is in The American Journal of Clinical Nutrition gepubliseer en daar word beweer ’n daaglikse inname van 250 ml van die vrugtesap sal genoeg wees om jou bloedsirkulasie te verbeter. Dit is te danke aan die flavanone in die sap. Flavanone is verbindings wat voorheen met goeie hartvatgesondheid verbind is.

Die navorsing is by die Franse Nasionale Instituut vir Landbounavorsing by Clermont-Ferrand in Frankryk gedoen.

Altesaam 48 gesonde vroue tussen 50 en 65 jaar oud het aan die navorsing deelgeneem. Die ouderdomsgroep is gekies omdat dit juis dan is wanneer mense die hoogste risiko loop om hartprobleme te ontwikkel.

Die helfte van hulle het ongeveer 250 ml pomelosap per dag gedrink en die ander helfte het iets gekry wat net so lyk, maar nie flavanone bevat nie. Die rede hiervoor was dat die navorsers dan kon vasstel presies wat dit in die verbinding is wat met die gesondheid van die hartvate help.

Die twee spanne het twee maande later hul drankies omgeruil en daar is gevind die flavanoonryke variasie het die deelnemers se bloedvate gesonder laat voorkom – die buigsaamheid van die vate is gemeet.

Dit is belangrik dat bloedvate kan rek, aangesien dit die bloed vinniger laat vloei. Die drankie sonder die verbinding het geen verandering veroorsaak nie.

Maar alles is nie so rooskleurig soos dit lyk nie. Mense wat reeds hartprobleme ondervind, moet versigtig wees wanneer hulle pomelosap drink, want dit kan voorkom dat hul medikasie behoorlik geabsorbeer word.

Dit beteken te veel of te min word ingeneem. Om hierdie rede is dit altyd beter om met jou dokter te gesels voor jy enige veranderings aan jou dieet aanbring.

© Cover Media