Bevindings wat voortgespruit het uit die resultate van 88 studiestukke waarby amper ses miljoen mense betrokke was, dui daarop dat wanneer jy tweedehandse rook inasem, jou risiko om tipe 2-diabetes te ontwikkel met 22 persent verhoog word. Rokers het 'n 37 persent hoër kans om hiermee gediagnoseer te word as nie-rokers.

Type 2-diabetes ontstaan onder meer wanneer jou liggaamselle nie op insulien reageer nie.

Wetenskaplikes beklemtoon hoe meer sigarette jy per dag rook, hoe hoër is jou risiko op die siekte. Die kans vir ligte rokers is 21 persent, middelmatige rokers 34 persent en swaar rokers 57 persent.

Wanneer jy egter ophou met rook, verminder dit jou kans om tipe 2-diabetes te kry van 54 persent oor die eerste vyf jaar tot slegs 11 persent ná 'n dekade.

Die resultate, wat in The Lancet Diabetes and Endicronology gepubliseer is, is versamel deur professor Frank Hu van die Harvard-universiteit en professor An Pan van die Huazong-universiteit van Wetenskap en Tegnologie in China.

Professor Hu beklemtoon dat dit van groot belang is om rokers teen diabetes te waarsku.

"Die rook van sigarette moet beskou word as 'n sleutel-risikofaktor vir diabetes,” het hy opgemerk.

"Pogings van die kant van openbare gesondheidsorg om die rookgewoonte hok te slaan, sal 'n beduidende uitwerking hê op die wêreldwye las van tipe 2-diabetes.”

Professor Naveed Sattar by die universiteit van Glasgow is ook entoesiasties oor die plan dat dokters die publiek moet inlig oor die gevare wat aan rook verbonde is.

"Dokters behoort te noem dat, benewens die risikofaktor vir hartvatsiektes en velerlei kankersoorte, rook ook as risikofaktor by diabetes beskou moet word – alhoewel dit 'n geringer faktor is vergeleke met byvoorbeeld longkanker,“ sê hy.

"Pasiënte wat rook, behoort ook ingelig te word dat, indien hulle ophou met rook en hulle op die lange duur van rook onthou, hulle nie slegs hul risiko’s vir hartvatsiektes en kanker verlaag nie, maar ook mettertyd die risiko vir diabetes.

"Dit sal natuurlik selfs beter wees om mense te oorreed om nooit te begin rook nie: boodskappe van die kant van openbare gesondheidsorg behoort miskien nou ook diabetes in te sluit by die lysie van oorsake van rookverwante skade.”

© Cover Media