’n Onlangse studie bewys dat passiewe rook gekoppel kan word aan onvrugbaarheid by vroue en dit kan die oorsaak wees van ’n vroeë menopouse.

Dit is bekend dat wanneer jy self sigarette rook, dit ’n negatiewe uitwerking op jou gesondheid het, maar hierdie navorsing beklemtoon die gevaar van die nabyheid van enige sigaretrook, al asem jy dit nie direk in nie.

In die resultate, wat in die tydskrif Tobacco Control gepubliseer is, word tot die gevolgtrekking gekom dat vroue wat rook, of dit nou direk of passief is, hul menopouse een of twee jaar vroeër kan ondervind as dié wat nooit gerook het of met rokers in aanraking was nie.

Huidige en voormalige rokers het ’n 14 persent groter kans op onvrugbaarheid getoon, terwyl passiewe rokers wat aan die meeste dampe blootgestel was, 18 persent meer geneig was om probleme te ondervind om swanger te word. Die hoogste vlak is gestel op die geval waar jy as kind 10 jaar of langer saam met ’n roker gewoon het, 20 jaar saam met iemand wat tuis gerook het en 10 jaar gewerk het saam met kollegas wat rook.

Daar was ook ’n 26 persent groter risiko om voor 50 deur jou menopouse te gaan as jy tans rook of voorheen gerook het, en by passiewe rokers het die menopouse 13 maande vroeër aangebreek.

Wetenskaplikes het tot hul gevolgtrekkings gekom op grond van die data van 79 960 vroue van tussen 50 en 79 jaar wat deelgeneem het aan die Women's Health Initiative Observational Study.

Deelnemers is ook uitgevra oor hul rookgewoontes, of hulle vrugbaarheidsprobleme ondervind het en hoe oud hulle was toe hulle deur hul menopouse gegaan het.

Rokers is gevra hoeveel sigarette hulle elke dag rook, voormalige rokers is gevra op watter ouderdom hulle ophou rook het en hoeveel jaar hulle die gewoonte gehad het, terwyl aan nierokers gevra is of hulle saam met ’n roker gewoon het en of daar enige rokers by hul werkplek was.

Daar was ’n beduidende skakel tussen blootstelling aan sigaretrook en probleme met vrugbaarheid, asook ’n vroeë menopouse, het die wetenskaplikes opgemerk.

Hulle het gesê: “Dit is een van die eerste studies van hierdie omvang en wat die statistiese vermoë het om aktiewe en passiewe rook en vroue se gesondheidskwessies na te vors en te kwantifiseer.”

“Dit versterk die huidige bewyse dat alle vroue teen aktiewe en passiewe tabakrook beskerm behoort te word.”

© Cover Media