Iepekonders, ’n soort angstigheid oor jou gesondheid, kan ook jou oordeel belemmer. Daarom gaan ons ’n paar kwellings vir jou opklaar.

Maagongesteldheid of prikkelbare dermsindroom (IBS)

As ’n mens se maag nie lekker is nie, is dit feitlik onmoontlik om jou aandag by enigiets anders te bepaal.

Shona Wilkinson, hoofvoedingskundige by Nutri Centre het ’n paar wenke gedeel oor hoe jy kan weet of jy voedselvergiftiging het. “Die koors, opgooiery, maagpyn en diarree kan nogal erg wees, maar dit klaar gewoonlik ná 24 tot 48 uur op," het sy verduidelik. “Dit kan nie maklik met prikkelbare dermsindroom verwar word nie."

Prikkelbare dermsindroom is meer kronies, en die simptome sluit wind, opgeblaasdheid en wisselende stoelgange in. Shona merk op dat dit vir ’n lang tyd geïgnoreer kan word, veral ná infeksies.

Sy voeg by: “Dit kom voor wanneer die inflammasie en infeksie, wat vir die voedselvergiftiging verantwoordelik was, veroorsaak dat die delikate voering van die derm nog lank nadat die infeksie opgeklaar het, oorgevoelig kan wees. Hierdie soort supersensitiwiteit veroorsaak dat die derm op sy eie natuurlike bewegings reageer, en dit lei tot kramppyne wat dikwels net verlig kan word deur wind te laat of toilet toe te gaan."

Hoofpyn of skeelhoofpyn?

Spanningshoofpyne kan baie erg wees en hulle lei tot die sametrekking van die nek- en skouerspiere, asook pyn agter die oë of oor die slaap, maar skeelhoofpyne is meer ingewikkeld. Hulle is ’n mengsel van chemiese en sirkulasie-ongereeldhede wat ’n klomp pyn aan die gang sit.

Enigiets, van ’n hormoonwanbalans, wat dikwels tydens menstruasie by vroue voorkom, tot stres en probleme met die tande, kan bydra tot skeelhoofpyn.

Hoe weet jy wanneer is dit ’n skeelhoofpyn? "Aanvalle van skeelhoofpyn kom in twee fases,” verduidelik Shona.

"Die aanvanklike simptome sluit flitsende ligte in die oë (verwant aan bloedsirkulasie) in en dit word gevolg deur die kloppende hoofpyn (wanneer die sirkulasie weer verander, die bloedvate uitsit en teen die pynsensitiewe bedekking van die brein druk)."

Ekseem of psoriase?

Die vorm van ekseem is dikwels onreëlmatig en dit word nie eweredig oor die liggaam versprei nie. Dit kom meestal in voue voor, soos agter die knie of in die oksel.

Psoriase, aan die ander kant, is altyd rond, verhewe en lyk skyfvormig. Dit kom voor aan die buitekant van die arms, bene, om jou bolyf en op jou kopvel.

Sonja Dymalovski, velsorgkundige by What Skin Needs, verduidelik dat jy albei aandoenings op dieselfde manier kan behandel. “Dit is noodsaaklik om die vel klam te hou en dit te voed, aangesien dit die gejeuk en ongemak onmiddellik verlig," sê sy.

“Kalmerende rome wat dikwels deur dokters en aptekers aanbeveel word, bring egter selde blywende verligting. Hulle kan trouens selfs die reeds ontsteekte vel irriteer, aangesien hulle dikwels chemikalieë bevat. Gebruik eerder ’n natuurlike room of salf.”

Maar onthou: slegs ’n dokter kan jou korrek diagnoseer, dus, as jy bekommerd is, maak onmiddellik ’n afspraak met jou huisdokter.

© Cover Media