Vandeesweek is die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels (Sanra) se Dwelmbewustheidsweek, en Donderdag 26 Junie is dit die Wêrelddag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Dwelmhandel. Dis dus ’n goeie tyd om bewus te wees van medikasie wat jy gereeld neem.

Volgens Sanofi, ’n internasionale farmaseutiese maatskappy, groei die verkope van nagemaakte medisyne wêreldwyd weens onwettige webtuistes en informele winkels. Dit geld veral vir Afrika, Asië, Latyns-Amerika en ontluikende ekonomieë, waar die beheer van farmaseutiese produkte minder streng is. En moenie dink dit is net medisyne vir erektiele disfunksie of gewigsverlies wat geraak word nie – die probleem sluit ook medisyne in vir chroniese en ernstige toestande soos kardiovaskulêre siektes of kankers wat aanlyn beskikbaar is.

Die gevare

In die onlangse verslag Sanofi Fights Against Counterfeit Medicines, sê Sanofi se direkteur van teenvervalsingskoördinering, dr. Caroline Atlani: “Hierdie nagemaakte medisyne bevat nie die verwagte hoeveelheid aktiewe bestanddele nie; dit voldoen ook nie aan die standaardvereistes vir gehalte, doeltreffendheid en veiligheid nie. Pasiënte loop dus ’n aantal risiko’s: buiten die teenwoordigheid van giftige stowwe, kan hierdie medisyne onaktief wees en ernstige newe-effekte en komplikasies vir pasiënte inhou.”

Vervalste medisyne hou ook ander gevare in, veral weens die voorkoms van weerstand by die behandeling van aansteeklike siektes met antibiotika of teenmalaria-medisyne.

Statistieke

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat tussen 10 en 15 persent van alle medisyne wêreldwyd is vervals; in Afrika is dit amper ’n derde.

Ander skokkende statistieke van die Farmaseutiese Veiligheidsinstituut se 2011-situasieverslag sluit in:

  • ’n Tiende van die medisyne wat wêreldwyd verkoop word, is nagemaak en in sommige lande is dit self 70 persent. (LEEM 2011)
  • Vir elke R10 000 wat belê word, kan misdadigers sowat R20 000 wins maak uit die verkoop van heroïenverkope, maar op dieselfde belegging in nagemaakte medisyne is die opbrengs tot R4 000 000.

Beskerm jouself

’n Vername bron van vervalste medisyne is sogenaamde aanlyn apteke.

“Dié webtuistes bied voorskrifmedisyne wat jy sonder ’n voorskrif kan koop; hulle verkoop ongemagtigde of vervalste produkte,” sê dr. Rashem Mothihal, Sanofi se mediese direkteur vir Suid-Afrika. “Dit word deur onwettige organisasies bedryf. Hulle werk soos ’n netwerk en verberg hul ware identiteit of jok oor hul ware ligging.”

Dr. Mothihal sê in Suid-Afrika laat die Suid-Afrikaanse Aptekersraad net aanlyn verkope van medisyne toe mits dit onder die toesig van ’n apteker met ’n kleinhandel-apteek geskied. “Maar dit is hoogs onwettig vir iemand om medisyne sonder ’n invoerlisensie na Suid-Afrika in te voer. Dis eintlik wat iemand doen wat medisyne aanlyn bestel. Sanofi raai die Suid-Afrikaanse publiek ten sterkste af om ’n onwettige verskaffer te gebruik.”

By www.fakemedicinesrealdanger.com, ’n webtuiste wat deur Sanofi geskep is, gee hulle die volgende raad om jou te beskerm teen vervalste medisyne.

Maak so wanneer jy medisyne per voorskrif kry:

  • Kyk na die voorkoms van die medisyne: die kleur, tekstuur, vorm en verpakking.
  • Maak seker dit proe dieselfde wanneer jy dit gebruik.
  • Stel jou apteker of dokter in kennis as jy enigsins twyfel oor die medisyne, byvoorbeeld as die verpakking of die kleur vreemd of anders lyk.
  • As iets skielik baie goedkoper as gewoonlik is, is dit ’n teken dat dit dalk nagemaak is.
  • As jy enige ernstige of ongewone newe-effekte ervaar, is jou medisyne dalk vervals – spreek onmiddellik jou dokter.