Hoewel oefening belangrik vir algehele gesondheid is, kan daar verskuilde kieme in jou gim-sak skuil. Die materiaal waarvan oefendrag gemaak word, is die perfekte broeiplek vir allerhande soorte bakterieë.

Volgens nuwe navorsing wat deur die Amerikaanse Vereniging vir Mikrobiologie gepubliseer is, is veral gevorderde poliëster-sportdrag die sondebok. Katoen is ’n veiliger keuse.

Sweet en ’n gimklere met ’n effense klankie beteken dalk jy’t hard geoefen, maar die reuk kan ook ’n teken wees dat bakterieë op jou klere broei. En dis nie net jou eie kieme wat daar vaskleef nie – jy kan kieme optel uit nabye kontak tydens gimklasse of oefeninge met ’n maat en die aanraking van verskeie toestelle en so verkoue, griep, die norovirus of selfs MWSA (metisilline-weerstandige staphylococcus aureus) opdoen.

'Maar daar is geen rede tot oordrewe kommer nie – jy moet net jou gesonde verstand gebruik.'

Maar daar is geen rede tot oordrewe kommer nie – jy moet net jou gesonde verstand gebruik. “Dit kan enige kiem wees wat in die gemeenskap heers, verkoues en griep en selfs die norovirus,” het dr. Lisa Ackerley aan MailOnline gesê. “Dis in die haak om bakterieë op te tel. Dis belangrik om nie mense af te skrik nie.”

“Die belangrikste is om bewus te wees. Jy sal bakterieë optel, want dis doodnormaal, maar jy moet net dink aan wat jy kan doen om dit te beheer en risiko’s te voorkom.”

Maak jou sak ná ’n gim-sessie dadelik leeg en gooi dit in die wasmasjien. Hoe langer dit broei, hoe meer kans kry die bakterieë om aan te teel omdat hulle hou van warm en klam omgewings. Was klere teen 60°C of gebruik ’n antibakteriese reiniger om soveel kieme as moontlik dood te maak.

Dis ook ’n goeie idee om hand-ontsmettingsmiddel en antibakteriese klamlappies saam gim toe te neem. Vee toestelle voor en ná gebruik daarmee af en reinig vinnig jou hande wanneer jy die gim verlaat.

© Cover Media