Onlangse navorsing toon ’n woordewisseling kan ’n negatiewe uitwerking hê op die grootte van jou middellyf.

Navorsers aan ’n universiteit in Ohio het bevind ’n vyandige atmosfeer tussen geliefdes kan lei tot ’n toename in ghrelien, die sogenaamde hongerhormoon. Ghrelien laat jou smag na gemorskos, en dis waarskynlik hoekom ’n mens gewig aansit.

Om hul teorie te staaf het navorsers paartjies gevra om saam te eet en dan ’n netelige punt in hul verhouding te bespreek. Daarna het hulle vraelyste ingevul en is monsters van hul bloed en speeksel geneem. Dié is getoets vir ’n streshormoon.

Die resultate het getoon daar is ’n duidelike verband tussen struwelinge in ’n verhouding en die inname van voedsel wat baie suiker, vet en sout bevat. Interessant genoeg het die verskynsel slegs voorgekom by mense met ’n normale gewig, of wat effens oorgewig is, nie by vetsugtiges nie.

Lisa Jaremka, hoofskrywer, het wel beklemtoon daar is geen bewyse dat ’n stryery jou regtig honger maak nie.

Dit is nie die eerste keer dat gewigstoename in verband gebring word met ’n ongelukkige verhouding nie. Verlede jaar is tydens ’n studie bevind kwaai woordewisselings met jou maat kan lei tot veranderinge in die metabolisme van jou vetselle, veral by mense wat geneig is tot depressie.

Omdat verhoudings nie altyd maanskyn en rose is nie, is dit die moeite werd om te kyk na hoe jy konflik hanteer. Moenie ná ’n misverstand dadelik trooskos nader trek om beter te voel nie.

Dink eerder ’n rukkie lank oor die saak en doen dan aan iets anders, soos lees of oefen of besoek vriende. Wanneer jy en jou maat weer albei kalm is, kan julle die probleem rustig bespreek.

© Cover Media