Almal sien uit na die dae wanneer jy jou werk en ander bedrywighede eenkant toe kan skuif en jouself bederf deur ’n bietjie verlore slaap in te haal.

Navorsers beweer egter nou selfs geringe veranderings aan die tyd dat jy elke dag opstaan, kan jou gesondheid benadeel.

Dit is lank reeds bekend dat mense wat skofte werk en gereeld onderbrekings ondervind wat hul sirkadiese stelsel (ook bekend as interne horlosie) betref, meer dikwels tipe 2-diabetes en hartsiektes opdoen as mense wat “gewone” ure werk.

Nou lyk dit egter of die gesondheid van mense wat in die week soggens vroeg opstaan om werk toe te gaan en dan oor die naweek ’n bietjie later lê ook in gevaar is.

In die studie is die slaappatrone van 447 mans en vroue tussen 30 en 54 jaar oud bekyk. Almal het minstens 25 uur weg van die huis af gewerk. Elke deelnemer moes ’n week lank elke dag ’n armband dra om sy/haar bewegings en slaappatrone te monitor.

Vraelyste is gebruik om hul dieet- en oefenpatrone te ondersoek.

Mense by wie ’n groter verskil in hul slaappatroon op werksdae vergeleke met af dae aangedui is, was meer geneig om ’n groter middellyf, hoër liggaamsmassa-indeks, hoër vastende insulienvlakke en swakker cholesterolprofiele te toon.

Byna 85 persent se halfpadmerk in hul slaapsiklus was op hul af dae later as op dae dat hul moes werk.

“Sosiale vlugvoosheid wys op die wanverhouding tussen iemand se biologiese sirkadiese ritme en sy sosiaal opgelegde slaappatrone,” het dr. Patricia Wong van die Universiteit van Pittsburgh in die VSA gesê. “Dit is die eerste studie wat toon dat sosiale vlugvoosheid kan bydra tot probleme met die metabolisme van gesonde, werkende volwassenes wat minder probleme in hul slaappatrone ondervind.

“Dit kan selfs bydra tot die ontwikkeling van vetsug, diabetes en hartvatsiektes.”

Die navorsingstuk, wat in die Journal of Clinical Endocrinology and Metabolism gepubliseer is, het getoon die vetvlakke is hoër in die bloed van mense wat gedurende die week op ander tye opstaan.

“Dit is dalk hoog tyd dat ons as ’n gemeenskap heroorweeg wat die uitwerking is van werk en sosiale verpligtinge op ons slaapgehalte en gesondheid,” het Patricia bygevoeg.

© Cover Media