Navorsers by onder meer Harvard se TH Chan Skool van Openbare Gesondheid het bevind ’n glasie wyn per dag kan ’n vrou se kans op borskanker te verhoog. Vroue wat elke dag drink, al is dit hoe min, het ’n 13 persent hoër kans om gewasse in die lewer, ingewande, keel, mond, slukderm en larinks te ontwikkel.

Die doel van die studie was om mense te ondersoek wat matig drink en hierdie groep te waarsku dat selfs ’n klein sopie skadelik kan wees.

“Mense met ’n familiegeskiedenis van kanker, veral vroue met ’n familiegeskiedenis van borskanker, behoort dit te oorweeg om hul daaglikse alkoholinname te verlaag tot onder die aanbevole perke, of hulle moet liefs geen alkohol drink nie,” het dr Jürgen Rehm, ’n deskundige op die gebied van verslawing, gesê.

Die risiko vir kanker met betrekking tot rook is ook ondersoek. Wat vroue en borskanker betref, het rook geen verskil gemaak nie. By mans was die kans egter net hoër as hulle al gerook en daagliks sterk drank gedrink het.

Die studie is in die Britse Mediese Tydskrif gepubliseer en data van twee studies in die VSA is gebruik. Altesaam 88 084 vroue en 47 881 is oor 30 jaar geëvalueer.

Navorsers aan die Universiteit van Oxford het ook in ’n afsonderlike studie bevind daar is ’n verband tussen matige drinkgewoontes en borskanker. Hulle het ontdek vir elke addisionele drankie wat die deelnemers daagliks ingeneem het, het 11 ekstra borskankergevalle vir elke 1 000 vroue onder 75 voorgekom.

© Cover Media