In 'n Deense studie is daar bevind dat dit wat mans eet, 'n drastiese uitwerking op die DNS in hul sperm het. Dit sluit die gene in wat aan aptyt beheer en die gene wat die manier beheer waarop die brein ontwikkel. Dit is blykbaar die rede waarom kinders van pa's met vetsug self probleme met gewig kan ondervind en dit kan ook 'n skakel wees tussen mans wat erg oorgewig is en outistiese kinders.

Die navorsing, wat in die tydskrif Cell Metabolism gepubliseer is, is op 'n klein groepie mans uitgevoer. Die span van die Universiteit van Kopenhagen het die sperm van 13 skraal mans en 10 wat vetsugtig was, ondersoek. Hulle het gefokus op klein chemiese merkers in die DNS, aangesien dit reeds bekend is dat dit gesondheid beïnvloed.

Daar is gevind dat daar wel veranderinge by 9 000 gene voorgekom het, maar dit was nie permanent nie. Talle van dié mans het gewigsverlies-operasies ondergaan, en slegs 'n week ná die operasies het die merkers begin morfeer tot iets wat meer soos dié van die skraal kêrels gelyk het.

“Ons navorsing kan lei tot gedragsverandering, veral die voorbevrugtingingsgedrag van die pa,” het die navorser, dr. Romain Barrès, gesê.

“Dit is algemeen bekend dat 'n vrou haar moet oppas wanneer sy swanger is – sy moenie alkohol drink nie, sy moet wegbly van besoedelende stowwe af, ens. Maar, as die implikasie van ons studie geldig is, behoort daar ook 'n klompie aanbevelings tot die manne gerig te word.”

'n Vollediger studie is nodig voordat die resultate ten volle begryp kan word, maar dit lyk tog asof mans wat kinders

beplan, so gesond as moontlik behoort te wees.

© Cover Media