’n Sosiale byeenkoms sal dikwels meebring dat jy iets eet of drink wat nie streng gesproke deel van jou gesonde eetplan is nie. En terwyl dit in die haak is om af en toe te oortree, sal jy net resultate sien as jy ernstige dissipline toepas.

Nou moet die mense wat regtig vir jou omgee, jou begin ondersteun. Maar dit kan ook in ’n dieetramp ontaard as daar iemand in jou lewe is wat ’n meulsteen om jou nek is.

Dit kan die vriend wees wat altyd voorstel julle besoek ongesonde eetplekke wanneer julle saam kuier. Of die familielid wat met vars gebak by jou aanklop en aandring jy proe. Of dalk ’n lewensmaat wat gedurig opmerk jy is besig om obsessief te raak en moet net ’n bietjie ontspan.

Natuurlik is dit belangrik om op raad ag te slaan as jy gevaarlik min eet of dit in die gim oordoen – die mense gee waarskynlik regtig om en wil help. Maar as jy geleidelik gewig verloor en gesonder leef, kan dit ondermyning wees.

Probeer dink wat die mens se vertrekpunt is. Dalk is hulle bang jou nuwe voorkoms en lewenslus laat julle uitmekaar dryf of maak jou minder inskiklik om saam met hulle te gaan uiteet of kuier. As jy dink dit is moontlik die geval, moet jy hulle gerusstel. Wanneer hulle weer voorstel julle gaan slaan ’n paar drankies weg of toets die nuwe burger-eetplek uit, kom met ’n alternatief vorendag. Jy kan jou vriendin oornooi en ’n gesonde aandete berei of ’n aktiwiteit soos rolbal voorstel waar drank nie toegelaat word nie. So sal hulle besef jy stoot hulle nie opsy en gaan knibbel saam met jou nuwe kragstapvriende aan quinoa nie.

Jaloesie kan ook ’n rol speel. As jy iemand wat self sukkel om gewig te verloor snedige aanmerkings hoor maak oor hoe ernstig jy jou verslankingspoging opneem, kan dit ’n geval van nydigheid wees. As dit ’n baie goeie vriendin is, voer ’n eerlike gesprek en sê vir hulle hoe belangrik jou nuwe leefstyl is en hoe ingenome jy met jou vordering is. As hulle waarlik omgee, sal hulle net die beste vir jou wil hê. As sake nie verbeter nie, kry ’n bietjie afstand. ’n Bietjie tyd weg van mekaar kan jou help besin oor of hulle regtig iemand is wat jy in jou lewe nodig het.

Noudat jy in elk geval besig is om die vet af te skud, verhoed niks jou mos om ook van emosionele bagasie ontslae te raak nie . . .

© Cover Media