Hoe vorder jy met jou nuwejaarsvoornemens noudat 2015 ’n week oud is?

Vermy jy soetgoed of gaan gim elke tweede dag? Onthou net: as jy jou lewenstyl te drasties verander, sal jy dalk nie teen Februarie daarmee kan volhou nie. Hou dit eerder eenvoudig en laat vaar net vanjaar al die verskonings waarom jy nie oefening doen nie. Jy hoef nie vyf ure per dag te oefen nie, tensy jy regtig wil. Wees net eerlik met jouself en beweeg ’n bietjie meer.

Ek het nie tyd nie

Jy het dalk nie genoeg tyd om ’n paar uur oefening per week in te pas nie, maar ons is seker jy het tyd om van jou gunsteling-sepie op hoogte te bly, saam met jou vriende kroeg toe te gaan of luilekker namiddae saam met jou geliefde deur te bring. Ons stel nie voor jy offer jou sosiale lewe op vir ’n strawwe gimroetine nie, maar wat van ’n flinke wandeling van 20 minute in jou etensuur? Of raak dalk aktief met ’n paar opsitte en handgewigte terwyl jy TV kyk. ’n Bietjie moeite kan baie beteken.

Ek het nie die regte toerusting nie

Tensy jy met ’n sport begin waar jy ’n spesifieke apparaat of uitrusting nodig het, is dit ’n flou verskoning. Net omdat dit lyk of party mense nuwe gimklere aan het elke keer wanneer hulle op die trapmeul klim, beteken nie dis die norm nie. Oefening gaan nie oor wat jy dra nie – dis ’n fiksheidsvertoning, nie ’n modevertoning nie. Sorg dat jou klere liggewig is en kan asemhaal en skoene van goeie gehalte is en laat jou lyf die praatwerk doen.

Ek is oorgwewig

Oorgewig is nie net ’n goeie rede om fiks te word nie, maar benadeel ook mense se selfvertroue. As jy nie gemaklik voel om by ’n openbare gim of klas aan te sluit nie, begin dan deur aleen fiks te word. Flink stap, een stop te vroeg uit die bus klim of die trappe kies, sal jou fiksheidsvlakke stadigaan laat verbeter.

© Cover Media