Enigiemand wat al probeer gewig verloor het, sal weet hoe frustrerend dit is om ’n paar kilogram af te skud maar nie skraler te lyk nie, want jy ly aan uitermate opgeblasenheid.

Nou het ’n voedingkundige onthul hoe om dié algemene probleem te vermy en so van enige ongemak in die ingewande ontslae te raak.

Die gesondheidsafrigter Robyn Youkilis het die boek Go with Your Gut geskryf. Daarin stel sy ’n driestapproses voor wat enige opgeblasenheid kan hokslaan.

Lees ook: Nuwe navorsing toon dagdroom kan lei tot vetsug

Die metode behels dat jy meer bewustelik is oor wat jy eet, asemhaal, en belangriker nog, elke mond vol kos behoorlik kou – tot 150 keer.

“Die goeie nuus is my raad is maklik en bekostigbaar om te volg en jy hoef nie jou gunstelingrestaurant te laat vaar of brood vir altyd te vermy nie,” het Robyn aan MailOnline gesê.

“Pleks daarvan plaas ek die klem ferm op goeie verteringsgewoontes om die liggaam van binne na buite te genees – en jou slanker te laat lyk en gesonder te laat voel.”

Dit klink dalk vanselfsprekend, maar om te dink oor wat jy eet voor jy dit in jou mond sit, is een van die geheime tot gewigsverlies.

Met ’n besige lewe vol tegnologie swig baie van ons voor die versoeking om op ’n drafstap na kos te gryp en dit vinnig te verorber. Maar dan voel ons steeds honger, want ons gee nie ons liggaam tyd om aan te pas nie.

Die spoed van eet kan tot slegte spysvertering bydra, wat op sy beurt maagpyn en opgeblasenheid veroorsaak. Dit, tesame met ’n gebrek aan denke oor wat jy in jou lyf sit, beteken die risiko vir ongelukkige binnegoed neem skerp toe elke keer dat jy eet.

Lees ook: Wil jy sterk maagspiere hê? Lag meer!

“Maak ’n punt daarvan om soveel moontlik van jou maaltye met min afleidings te eet,” beveel Robyn aan. “Dwing ’n rekenaar- en selfoonskermverbod af tydens maaltye – musiek is in die haak, en spanningslose geselskap word aangemoedig, maar doen moeite om jou op jou kos en die ingewikklede ervaring van eet in te stel: tekstuur, smaak, reuk en hoe die kos jou laat voel.”

Bewustelikheid het die afgelope maande ’n gonswoord geword. Die voordele van asemhaal en meer bewus wees van jou gedrag en omgewing word op verskeie vlakke getoon. Asemhaling moet ook ’n belangrike deel van etenstyd wees, sê Robyn, want “ons het die mag om die manier te verander hoe ons liggaam op kos reageer.”

“Deur ’n paar eenvoudige asemhalingsoefeninge kan ons die lewe veel makliker vir ons ingewande maak,” voeg sy by.

“Deur bloot ’n paar oomblikke in te ruim om op verskillende stadiums in die dag diep en ten volle asem te haal, kan genoeg wees om ’n beduidende uitwerking op jou gesondheid en vertering hê.”

Die derde en belangrikste deel van Robyn se driestapproses is dat jy jou kos behoorlik en deeglik kou.

“Wanneer heel of swak gekoude stukke kos in die spysverteringstelsel beland, kan dit ’n rampspoedige reeks gebeure aan die gang sit en die liggaam in krisisbestuurmodus plaas,” verduidelik Robyn. “Dis ’n onnodige spanning.”

Om dit te vermy, maak seker jy kou elke hap behoorlik, of, soos Robyn voorstel, tot dit ’n “vloeibare pap” is.

“Voor jy elke mond vol afsluk, vra jou af: ‘Is dit pap? Kan ek dit nog ’n paar keer kou?’ As jy besef jy jaag deur ’n maaltyd, haal twee keer diep asem – en begin dan weer metodies kou,” sê sy.

© Cover Media