Pleks daarvan om jou gewone ou roetine te volg, hoekom pas jy dit nie effens aan sodat jy meer kilojoules verbrand nie? Hier is ons topwenke vir die trapmeul.

  • Drink voor die tyd koffie

POPSUGAR beveel ’n kafeïen-hupstoot aan voordat jy die trapmeul tref, want ’n koppie koffie of ’n dieetkoladrankie help jou spierkrag aan en dit verhoog die hoeveelheid kilojoules wat jy tydens oefening verbrand.  Die vetverbrandingseienskappe in kafeïen kan jou mettertyd help om die kilogramme af te skud. Vorige navorsing het bevind dat net een kafeïendrankie die hoeveelheid kilojoules wat oor die volgende paar uur verbrand word, met vier persent kan opstoot. Tel dié syfer by ’n oefensessie op die trapmeul en jy sal verstom staan!

  •  Maak die helling effens steiler

’n Steiler helling is ’n goeie, eenvoudige manier om kilojoules op die trapmeul te verbrand, maar jy moenie oorboord gaan nie.  Dis dalk baie aanloklik om’n kerf of twee steiler te gaan in die middel van ’n hardloopsessie, maar jy moet verstandig wees en die verstelling maak terwyl jy vinnig stap en jou verbeel dat jy in die vrye natuur oefen.

Die ander pluspunt hier is dat dit jou liggaamskrag versterk, want, soos Janet Hamilton, ’n oefeningsielkundige by die afrigtingsmaatskappy Running Strong in Atlanta, al aan Women’s Health gesê het: “Dit is ’n kans om krag in jou heupe en bene op te bou deur hulle effens harder te laat werk.”

  •  Probeer sarsies

Probeer nou en dan ’n sarsie teen hoë intensiteit inpas, pleks daarvan om geleidelik op te bou tot ’n hardloopsessie. Stap byvoorbeeld vir een minuut en hardloop dan vir twee. Dit verbrand nie net kilojoules nie, maar dit bou ook uithouvermoë en gee jou hardloopvaardighede ’n hupstootjie. Boonop is  oefening met sulke sarsie-tussenposes al verbind met verslanking om die maag: beslis ’n bonuspunt!  

Wanneer jy gemaklik voel en die vasgestelde sarsie-onderbrekings nie meer uitdagend genoeg is nie, kan jy die tye verleng en jouself druk om effens verder te hardloop. As jy nie meer uitasem voel nie, is dit tyd om harder te probeer. 

  • Wissel jou oefeninge gereeld af

Jy moet ook nie net op ’n trapmeul staatmaak nie, al is dit hóé maklik en gerieflik. Maak seker jou oefenplan bestaan uit ’n verskeidenheid oefeninge. Vir ekstra oemf kan jy selfs gewigte gebruik tydens jou hardloopsessie op die trapmeul. Moenie toelaat dat jou liggaam te rustig raak nie, want daar is só baie ander maniere om kilojoules te verbrand, soos swem, touspring en roei.