Die skeppers van die Orthokeratologie- of Ortho-K-lense hoop kinders sal dit dra in ’n poging om die ontwikkeling van bysiendheid te vertraag. Die bedoeling is dat die lense op dieselfde manier sal werk as draadjies vir skewe tande.

Die ortho-K-lense is harde, gasdeurdringbare variasies met die doel om die kromming van die oogbal te hervorm.

Resultate van die jongste navorsing is in die tydskrif Advances in Ophthalmology and Visual Systems gepubliseer, en dit toon sukses in die verandering van die vorm van die kornea terwyl die gebruiker slaap.

Sodoende help dit om bysiendheid te verlaag of selfs heeltemal te korrigeer terwyl die gebruiker slaap, volgens die Britse Kontaklensvereniging. Tot dusver is die lense net doeltreffend indien die miopie (bysiendheid) op ’n lae of middelmatige vlak is. Dit is die eerste keer dat dié soort lense suksesvol vir kinders geskep is. Soortgelyke sigregstellende lense vir volwassenes bestaan reeds en dit het die draers se sigskerpte verbeter van die dag waarop hulle dit begin dra het.

“Hierdie tegniek het yslike moontlikhede"

Die proefnemings is met 282 kinders, tussen agt en 14 jaar oud, gedoen. Dit is drie jaar lank by 10 sentrums in Amerika volgehou.

Prof. James Wolffsohn van die Aston-universiteit in Birmingham sal die span lei wat die eerste miopia-oogkliniek -- wat op die tegniek gaan fokus -- in Brittanje gaan oprig.

“Ek is baie opgewonde,” het James aan die Daily Express gesê. “Hierdie tegniek het yslike moontlikhede en ek glo dit sal die behandeling van bysiendheid heeltemal omkeer.

“Ons moet bewys hierdie tegniek kan nie net volmaakte visie gedurende die dag verskaf nie, maar dit stuit ook die ontwikkeling van toekomstige bysiendheid.”

Dit is tot dusver nog nie duidelik of die kinders se verbeterde sig behoue sal bly as hulle ophou om die lense te dra nie.

© Cover Media