Oorgewig en vetsug veroorsaak nou jaarliks byna ’n halfmiljoen nuwe kankergevalle by volwassenes, het ’n studie Woensdag gesê.

’n Kwart van hierdie gevalle is “realisties voorkombaar”, sê die skrywers van die studie wat in The Lancet Oncology gepubliseer is.

Dit is gelei deur wetenskaplikes van die Wêreldagentskap vir Kankernavorsing. Hulle het ’n reeks bronne gebruik, insluitend ’n groot databasis van kankervoorkoms en mortaliteit vir 184 lande in 2012.

By mans was oorgewig die oorsaak by 136 000 nuwe gevalle. Meer as twee derdes was kanker van die kolon en niere.

By vroue was dit ’n faktor in 345 000 nuwe gevalle; byna driekwart was postmenopousale bors-, endometriële en kolonkanker.

Aangesien vetsugtigheid in ontwikkelde lande die vinnigste groei, was die getal hoogste in Noord-Amerika; byna ’n kwart van al die gewigsverwante kankergevalle is daar aangemeld.

Afrika besuide die Sahara het die minste gehad, naamlik 7 300.

“Ons bevindings steun ’n wêreldwye poging om die opkomende neigings in vetsug die hoof te bied,” het die hoofnavorser, Melina Arnold, gesê.

“Die wêreldwye voorkoms by volwassenes het sedert 1980 verdubbel. As dit so aanhou, sal dit sekerlik die toekomstige las van kanker aanhelp, veral in Suid-Amerika en Noord-Afrika, waar vetsug die afgelope 30 jaar die meeste toegeneem het.”

’n Liggaamsmassa-indeks (die verhouding tussen gewig en lengte) van tussen 25 en 29,9 word as oorgewig beskou, en enigiets bo 30 is vetsugtig.

Elders in The Lancet het ’n bygewerkte kaart van kankeroorlewing die kollig geplaas op die gaping tussen ryk en arm lande, asook binne gevorderde ekonomieë.

Die Concord 2-studie kyk na ’n sleutelmaatstaf – die oorlewingskoers vyf jaar ná diagnose – by 25,7 miljoen pasiënte wat een van die 10 algemene kankersoorte gehad het.

Vir akute limfoblastiese leukemie by kinders – die algemeenste kinderkanker – het nege uit 10 kinders in Kanada, Oostenryk, België, Duitsland en Noorweë oorleef, terwyl die syfer daal tot tussen ’n vyfde en die helfte van kinders in Jordanië, Lesotho, Sentraal-Tunisië, die Indonesiese hoofstad, Djakarta, en Mongolië.

In die meeste ontwikkelende lande, asook Brasilië, Colombië en Ecuador, het die oorlewingskoers van bors- en kolorektale kanker verbeter danksy vroeër diagnose en beter behandeling.

Daar is steeds ’n groot gaping in die oorlewingskoers van servikale en eierstokkanker.

Vir daardie twee kankersoorte wissel die oorlewingskoers van sewe uit 10 in lande soos Mauritius, Suid-Korea, Taiwan, Ysland en Noorweë tot net meer as ’n derde in Libië.

In Europa is die oorlewingskoers vir servikale en eierstokkanker ses uit 10 of minder in Brittanje, Frankryk, Ierland, Bulgarye, Letland, Pole, Rusland en Slowakye.

Die studie behoort ’n maatstaf vir nasionale gesondheidsbeleid te wees, het Claudia Allemani by die London School of Hygiene and Tropical Medicine gesê.

“In sommige is kanker veel dodeliker as in ander – in die 21ste eeu moet daar nie so ’n groot gaping in oorlewing wees nie.”