Dis ’n dieetscenario waarmee baie van ons vertroud is: Jy volg deur die week ’n gesonde eetplan en vergryp jou dan aan gemorskos sodra Saterdag aanbreek.

Maar kenners waarsku nou dat ’n klimtoldieet ewe gevaarlik is as ’n dieet wat konsekwent uit kilojoule-ryke kitskos bestaan.

In ’n nuwe studie, waarvan die bevindings in die vaktydskrif Molecular Nutrion and Food Research gepubliseer is, is rotte gebruik om die uitwerking van klimtoldiëte op dermkanaalorganismes (mikrobiota) te bepaal.

Lees ook: Vetsugtige jong ma skud 45 kg af

Daar is glo tot 100 triljoen mikrobiese selle in die mens se dermkanaal wat metabolisme, immuunwerking en voeding kan beïnvloed – asook geestesgesondheid, volgens nuwe en toenemende bewyse. En wanneer dié mikrobiota ontwrig word, kan dit tot toestande soos inflammatoriese dermsiekte en vetsug lei.

Wetenskaplikes wat die studie gedoen het, het mikrobiota van ’n vetsugtige persoon gebruik en dit oorgedra na ’n maer muis, en dit het veroorsaak dat die muis vetsugtig geraak het. Daarbenewens kan ’n vetryke dieet lei tot ’n groot verandering in mikrobiota – wat verband hou met gewigstoename en ekstra vet.

Om die uitwerking van die dieet behoorlik vas te stel, het die wetenskaplikes die rotte in groepe verdeel – een is ’n gesonde dieet gevoer, een ’n dieet van gemorskos en nog een ’n mengsel van die twee, met gesonde kos vir vier dae en gemorskos vir drie dae oor ’n tydperk van 16 weke.

Die rotte op die sikliese diëte het drie keer meer energie ingeneem as diegene wat net gesonde kos geëet het. En met hul terugkeer na die gesonde dieet, het hulle die helfte minder voedsame kos geëet as dié wat konsekwent ’n gesonde dieet gevolg het.

Lees ook: Mense wêreldwyd eet ál ongesonder

Aan die einde van die studie is bevind die rotte op die sikliese dieet was 18 persent swaarder as diegene wat net die gesonde dieet gevolg het, maar steeds ligter as dié wat net gemorskos geëet het.

Kyk ’n mens na die mikrobiotiese profiele het die rotte op gemorskos en die sikliese dieet se dermprofiel verander. Dus het diegene wat net gemorskos geëet het en dié wat dit net drie keer per week geëet het, dieselfde nadelige veranderinge in hul dermkanaal ervaar.

Die resultate van die studie toon dat dieselfde vir mense geld en dat ooretery naweke dieselfde uitwerking het as om gedurig gemorskos te eet. Kenners sê enigeen wat onverwerkte kos en ’n gesonde dieet volg, kan hul eetgewoontes – en hul dermprofiel – verander en gesonder leef.

© Cover Media