Is disleksie 'n gebrek of 'n breinsteurnis?

'n Vroeë leerprobleem wat verbygaan of 'n blywende beproewing? Kan jy dit regdokter? Hoe meer antwoorde jy kan kry op vrae soos dié, hoe beter sal jy jou disleksiese kind kan help

Deur Irma Joubert

Kry ek nou die dag 'n SMS van my sussie: "Ek mak mekerouni nou firlan ek naa jou."

Dis nie SMS-taal nie. My sussie is dislekties. Sy wou vir my skryf hoe sy na my verlang as sy macaroni maak.

My pa was ook dislekties. Hy was 'n slim man, 'n entomoloog met 'n meestersgraad, maar hy kon nooit werklik vorder in sy werk nie, want hy kon nie verslae lees en artikels publiseer nie.

My broers is dislekties. Slim mans, een met 'n B.Sc.-graad in fisika, die jonger een met 'n meestersgraad in arbeidsverhoudinge. Maar dit was hárde werk om daar te kom. Dit bly steeds harde werk, elke dag. "Sit 'n speltoetser op jou rekenaar," gee ek raad.

"Jong, ek het een," lag hy. "Die dom ding herken net nie die woorde wat ek skryf nie. En as hy iets herken, gee hy vir my vier opsies waaruit ek moet kies – hoe moet ek weet watter een?"

As kind het ek disleksie deur my sussie ervaar. Ons het saam ons tien spelwoorde geleer. Donderdagmiddag kon sy al tien korrek uitskryf, maar Vrydagoggend, as ons langs die plaaspad op die bus wag en met 'n stokkie in die dik sand ons woorde uitkrap, het ek geweet sy gaan weer 'n raps oor die vingers kry.

Later jare, toe ek self as taalonderwyser gesien het hoe 'n leerder dieselfde woord op vier verskillende maniere spel, hoe 'n leerder wat vir voorbereide leeswerk 'n E-simbool kry, met 'n sterk B wegstap vir 'n voorbereide toespraak, het ek gewens ek kon 'n wonderkuur ontwikkel om dié mense te help.

My sussie is nou 'n suksesvolle kleindorpse sakevrou en het onlangs 'n internasionale kursus in die rehabilitering van wilde diere voltooi. Op die oog af het sy haar disleksie oorkom, maar dit bly steeds vernederend om vir die eksaminatore uit Amerika en Kanada te vra of sy haar eksamen mondeling mag aflê.

Sy kan nie 'n pragtige rolprent soos Life is Beautiful gaan kyk nie, want sy kan nie die onderskrifte lees nie. Sy sukkel met 'n vreemde kitsbank, want voor sy die aanwysings op die skerm klaar ontsyfer het, flits die rooi lig ongeduldig: Wil u voortgaan met die transaksie?

Om te bestuur en die groot, blou naamborde langs die pad te lees, is onmoontlik – teen 80 km per uur flits hulle net te vinnig verby. Johan is 'n lewendige tiener, 'n platjie par excellence, 'n kranige rugbyspeler, 'n doring onder die rose – en 'n disleksielyer.

Ek was sy Afrikaans-juffrou, ek merk sy werk met 'n potlood dat dit darem nie soos 'n Kalahari-sonsopkoms lyk nie. Sy ma lees vir hom sy voorgeskrewe boek, hy druip taaltoets op taaltoets. Jy sien op sy rapport dat sy punt vir wiskunde bo 80 persent is, 95 persent vir rekeningkunde, 42 persent vir Engels.

Oor 'n koppie tee sê die oorwerkte geskiedenis-juffrou: "Ek wens net daardie Johan wil konsentreer; hy skryf goed verkeerd van die bord af." Jy voel die oë na jou draai – dis tog 'n eeue-oue basiese vaardigheid om reg te kan skryf?

Maar jy weet: Die senuweeagtige brein besluit die sin is lank genoeg, êrens moet 'n punt kom. Jy weet: Elke woord sien hy asof vir die eerste keer, dit is nie in sy geheuebank nie. Jy weet ook: Dis soos om vir 'n kind wat hakkel te sê: "Praat reg!" of om vir 'n dowe te sê: "Maak oop jou ore."

Soos die kind se moedelose ma is jou hande ook afgekap. En vroeg volgende kwartaal met oueraand sit 'n ma-mens weer voor jou en vra: "Wat kan ek doen?" En jou opleiding as hoërskoolonderwyser het jou voorberei op hoe om die kinders te leer sinne ontleed en gedigte waardeer, en hoe om lesse in jou joernaal korrek uit te skryf – die HODsillabus weet nie van disleksie nie.

Wat is disleksie?

Disleksie is 'n vorm van gestremdheid wat nie op 'n spesiale parkeerplek kan aanspraak maak nie en wat nie in die werkplek se kwotastelsel punte tel nie.

Volgens die Internasionale Disleksievereniging is dit 'n taalgebaseerde leerprobleem wat die skryf, lees, spel en selfs uitspraak van woorde moeilik maak. Mense met disleksie sukkel om letters en die klanke wat hulle voorstel, met mekaar te verbind. Die presiese oorsaak daarvan bly steeds 'n raaisel.

Navorsing deur dr. Bennett A. Shaywitz van Yale-universiteit het bevind dat daar 'n verskil is tussen die brein van "normale" lesers en kinders met disleksie. Dis nie 'n breinbesering nie, eerder 'n steurnis in die neurologiese bedrading wat lees uiters moeilik maak.

Navorsers aan die Universiteit van Helsinki het 'n enkele geen (met die onleesbare naam DYXCI) ontdek wat moontlik die sondaar kan wees. Hulle werk nou aan metodes om as't ware die dislektiese brein te herbedraad.

Tans baat verskillende mense tog by verskillende behandelings na gelang van hul persoonlikheid en die aard van hul gebrek. Die goue reël bly: Hoe vroeër die probleem geïdentifiseer en behandel word, hoe makliker is dit om te help.

Jy kan met toetse reeds voor hulle skool toe gaan die kinders uitken wat met disleksie kan sukkel.

Behandeling

Tans is daar soveel behandelingsmoontlikhede op die mark dat die desperate ouer wonder wat werk en wat nie. Op die internet is soveel behandelings, soveel beloftes van skitterende resultate. Is daar 'n kitsoplossing of is dit 'n lewenslange opdraande stryd?

Spraakterapie

Lees en skryf is taal op papier. 'n Mens leer eers 'n taal praat voor jy dit leer lees of skryf.

Almeri Scott is 'n spraakterapeut in Johannesburg. " 'n Kind moet die fyn verskille tussen woorde of klanke kan waarneem, klanke binne woorde in volgorde kan onthou, woorde in lettergrepe en klanke kan verdeel, en lettergrepe en klanke saamvoeg tot woorde.

"Vir 'n kind wat nie die verskil tussen byvoorbeeld die m- en n-klanke kan hoor nie – ondanks normale gehoor – sal die woorde 'mat' en 'nat' dieselfde klink, wat kan lei tot spelprobleme.

"Praat van die eerste dag af met jou babatjie; dis die enigste manier hoe hulle taal aanleer," is haar raad. "Gebruik van kleins af korrekte, volwasse taal. Lees vir jou babatjie, sing liedjies en sê rympies op."

Hoe vroeër ouers gevaartekens raaksien en optree, hoe beter. Die terapeut sal ouers help om die kind se taal- en luistervaardighede te stimuleer. Spraak- en taalterapie is verreweg die suksesvolste benadering, sê dr. Shelley O'Carroll, 'n sielkundige van Muizenberg wat spesialiseer in disleksie en leerprobleme.

Audiblox

Die terapeute by Audiblox beskou disleksie nie as 'n gestremdheid nie, maar as 'n onvermoë wat reggestel kan word. Dr. Alida Kotze, 'n psigiater van Durbanville, wys egter uit dat leesprobleme verbeter kan word, maar dat disleksie nie genees kan word nie.

"Audiblox werk op die beginsel dat al die mens se vermoëns vir hom geleer is," sê Marj Arslanian van Kloof in Durban. Sy demonstreer met behulp van muurkaarte hoe die probleem van die b/d/p/q-verwarring spelenderwys oorkom kan word. Dis prettig en slim.

"Deur herhaling word die herkenning van die verskillende letters en klanke in die geheuebank vasgelê, sodat die toepassing later outomaties kom. "Ek het nog nooit 'n kind gehad wat ek nie kon help nie," sê sy.

Susan du Plessis van die Sentrum vir Disleksie in Pretoria en Marj beklemtoon egter al twee dat ouers moet seker maak die persoon wat die Audibloxprogram doen, is 'n geakkrediteerde Audibloxterapeut.

Dore

Die Dore-program fokus op die serebellum of kleinharsings – die sentrum van die brein wat vaardighede só aanleer dat dit maklik en outomaties kom.

Dore is 'n individueel gerigte tuisprogram wat fisieke en begripsoefeninge gebruik om dié deel van die brein te stimuleer en te ontwikkel. Kenners het hul bedenkinge oor die doeltreffendheid van die program.

"Die sogenaamde breinoefeninge gaan nie 'n kind help lees of skryf nie," sê Shelley. "Dit kan kinders hoogstens ontvankliker maak vir onderrig. Die enigste manier waarop hulle beter leer lees en skryf, is om dit te leer doen."

Leesklinieke

'n Onvermoë om goed te kan lees, lei noodwendig tot akute leerprobleme. 'n Kommerwekkende aantal kinders het deesdae swak leesvaardighede en dus 'n swak leervermoë.

Leesklinieke rig hulle natuurlik nie net op mense met disleksie nie, maar kan enigeen help wat metlees sukkel. Kenners maan egter dat die leesterapie betekenisvolle lees- en skryfoefeninge moet insluit – nie net werkstate en lang lyste woorde nie.

"Daar is dikwels te veel klem op die korrekte spelling van woorde. Kinders met disleksie moet ook leer om teks vlot te lees en hoe om hul eie idees neer te skryf," sê Shelley O'Carroll. Die leesprogram moet lekker wees en 'n liefde vir lees en skryf by die kind aanwakker.

Wise Eye

Dié groep het meer as vyftig klinieke landwyd. Hul leestegniek is uniek in die opsig dat die gehalte van inligting wat deur lees ontvang word, in 'n baie suiwerder vorm na die korttermyngeheue gestuur en 'n baie akkurater boodskap dus na die langtermyngeheue aangestuur word.

Die program behels hoofsaaklik oog- en geheueoefeninge, en behaal volgens Lana van Niekerk, 'n opleidingsterapeut in Bloemfontein, uitstekende welslae.

Tina Cowley

Sy het die tegnologies ondersteunde Cowley-leesmetodes ontwikkel op soek na 'n oplossing om haar eie seun se leesprobleme te oorkom. Sy gebruik 'n unieke, gepatenteerde sleutelbord om aandag te gee aan die probleme met lees.

Ná wetenskaplike toetse van iemand se leesvermoë word 'n doelgerigte program vir al die basiese leesvaardighede uitgewerk.

Raad aan lesers

Elkeen van ons het 'n lyf waarin ons woon. Aan my lyf kan ek iets doen: Ek sal sekerlik nooit soos Charlize Theron lyk nie, maar met daaglikse besoeke aan die gim sal ek beslis beter lyk as nou.

Dieselfde geld vir disleksie. Iemand met disleksie kán met die regte behandeling en volgehoue oefening sy eie vermoë verbeter.

Maar totale genesing? Daaraan twyfel ek steeds. Eers wanneer my sussie 'n boek optel en so glad lees soos wat sy praat, sal ek dit glo.

En op die ou end: Wat sê ons vir 'n dislektiese tiener of vir die ma van 'n gr. 3'tjie wat nog glad nie kan lees nie? Dit bly 'n gestremdheid waaraan jy lewenslank gaan ly: Dis jou boggel wat jy altyd saamdra, jou skryfwoorde waarmee jy hakkel, jou leeswoorde wat jou voor jou Bybelstudiegroep laat struikel.

Ons weet dit help jou niks dat tussen 4 en 5 persent van die Britse bevolking aan disleksie ly, of dat briljantes soos Richard Branson dislekties is nie.

Ten slotte is dit jý, dislektiese persoon, wat matriek moet slaag, wat verdere opleiding wil hê, wat eendag 'n suksesvolle beroepslewe wil volg.

Uiteindelik is dit die disleksielyer self wat moet ontdek hoe om sy gestremdheid te bowe te kom, hoe om ondanks sy gestremdheid 'n groot mens te word, soos Henry Ford, of Richard Branson, of my sussie.

Saamgestel met die hulp van dr. Shelley O'Carroll, opvoedkundige sielkundige, en dr. Alida Kotze, psigiater.

Simptome van disleksie

Sukkel jou kind om die letter met die klank te verbind?

Lees hy stadig en verloor sy plek?

Kan hy nie onthou wat hy lees nie?

Kan hy die letters van 'n woord klank, maar dan nie die klanke saamvoeg om 'n woord te vorm nie?

Verwar hy letters, bv. b en d, of ue en eu?

Laat hy letters weg en skryf bv. kat pleks van kant?

Sukkel hy met sinstrukture, leestekens, lettergrepe, hoofletters?

Sukkel hy met taalgebruik? Die onvermoë om woorde korrek uit te spreek, 'n agterstand in woordeskat, volgehoue babataal, die omkering van lettergrepe in woorde en invoegings of weglatings van woorddele kan gevaartekens wees.

Sukkel hy om dinge reg waar te neem? Goeie gehoor en sig is 'n voorvereiste. Die onvermoë om verskille en ooreenkomste in legkaarte, prente en simbole raak te sien, kan 'n aanduiding van 'n probleem wees.

Dr. Alida Kotze, 'n psigiater van Durbanville, Kaapstad, raai aan dat jy jou kind na 'n multidissiplinêre span neem vir 'n volledige evaluasie en toegespitste behandeling.

"Daar is nie enige kitsoplossings nie. Jou kind sal leesterapie moet ontvang en moontlik ook terapie vir emosionele en gedragsprobleme," sê sy.

'n Sielkundige se raad aan ouers

Samel soveel moontlik inligting oor die onderwerp in, lees boeke en maak jou deur selfstudie so kundig moontlik op die gebied.

Vind by jou kind se skool uit waar jou naaste inligtingsentrum is.

Probeer jou kind se leerstyl bepaal en help hom dan om sy leerwerk op dié manier te benader, bv. deur spinnekop-diagramme eerder as opsommings.

Kry by die skool vergunning vir jou kind om eksamens in ekstra tyd of mondeling af te lê, en vra toegewings vir verkeerde spelling.

Moenie te veel van jou kind verwag nie – pas aan by wat hy wil en kan doen.

As jy sy leeswerk wil oefen, gebruik dan boeke of kort artikels waarin die kind belangstel, byvoorbeeld oor sy stokperdjie of sy gunsteling-popster of -CD.

Bly te alle tye positief, moedig aan en verleen ondersteuning en hulp sonder om oor te neem.

Leer jou kind selfdissipline en bou sy selfbeeld op.