Jare lank is by ons ingeprent ontbyt is die belangrikste maaltyd van die dag, maar tog is dit dalk nie so ’n slegte idee om ’n happie vroegoggend oor te slaan nie.

Enigiemand wat sukkel om vroegoggend iets in die maag te kry, sal baie bly wees oor hierdie nuus.

Tim Spector, professor in genetiese epidemiologie by King’s College in Londen, het teorieë die nek ingeslaan dat drie volle maaltye per dag die beste is vir ons gesondheid.

Hy beweer swak navorsing en oudmodiese teorieë is die oorsaak van hierdie mistasting, en hy voeg by geeneen van die vorige studies dui op ’n manier waarop die oorslaan van ontbyt regstreeks tot vetsug kan lei nie.

“Studies wat ’n verband toon tussen vetsug en die oorslaan van ontbyt word bevooroordeel deur die slegte gewoontes van die ontbyt-oorslaners,” is hy aangehaal tydens ’n gesprek met MailOnline.

Lees ook: Is wolkbrood die antwoord op jou lae-koolhidraat-gebede?

“Ons weet hulle is moontlik minder ingelig en hulle ignoreer gesondheidsadvies, hulle kry minder vesel in, hulle rook en vermy boonop sport. Al hierdie dinge kan tot vetsug en swak gesondheid lei, of hulle nou ontbyt eet of nie.”

Die professor beweer in vier van ses lukrake studies wat die afgelope jare uitgevoer is, is bevind mense wat ontbyt oorgeslaan – en dus minder geëet het – gewig verloor het.

Sy argument is dat ’n Mediterreense dieet, wat bestaan uit twee maaltye later in die dag, dalk die beste pad vir jou kan wees.

Baie mense geniet net ’n koppie koffie in die oggend.

Sommige mense beweer nou wel kinders wat nie soggens eet nie, kan swaarkry by die skool, maar Tim glo nog navorsing is nodig.

Lees ook: Meer koffie kan alkoholverwante lewerskade teenwerk

Hy voeg by die voordele van ontbyt hang moontlik slegs van gene of persoonlike voorkeure af.

“Die studies wat ons met tweelinge gedoen het by King's College Londen het by oggend- en aandmense ’n duidelike invloed van gene getoon,” het die deskundige verduidelik.

“En hierdie ritmes van ons biologiese horlosie beïnvloed beslis die tye wanneer ons verkies om te eet. Ons moet dus miskien ons liggame toelaat om ons te lei in ons besluit oor wanneer ons ontbyt wil eet, eerder as dat twyfelagtige studies en dogmas dit vir ons doen.”

Westerse gemeenskappe het eers in die Victoriaanse era drie maaltye per dag begin eet. Die ou Grieke en Romeine het net een groot maaltyd per dag geniet – saans.

Vorige studies het getoon dat langer vastye – soos wanneer jy een keer per dag eet – gelei het tot ’n afname in liggaamsvet en die streshormoon kortisol.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

Seer knieë? Probeer botoks

Ses redes waarom jy meer groentee behoort te drink

Verkeerspolisie ry doelbewus rondloperhond dood sodat ‘dit nie ly nie’

Hardewareprobleme pootjie Telkom-gebruikers wat lugtyd wil herlaai

Dapper kankerlyertjie skitter op New Yorkse modeplank