Daar is wat ons liggaam betref ook riglyne wat gevolg moet word, maar is hulle almal waar? Ons neem jou hier deur ’n paar van die doodgewone mites oor kos om te kyk of dit nodig is dat jy aanhou glo aan hulle.

Swem ná ete

Hoeveel van ons het vakansies geduldig by die swembad sit en wag omdat ons ouers gesê het ons kos moet eers sak voor ons induik?

Ja, die reël dat jy nie te gou ná ete moet swem nie, is een wat jou lank bybly. Met goeie rede, want dit het werklik ’n negatiewe uitwerking. Kathyn Brown, ’n senior voedingkundige vir Britse swemsport by die Engelse Instituut vir Sport, verduidelik swem nadat jy geëet het, kan by sommige mense suur laat terugvloei en hulle mislik laat voel. ’n Horisontale posisie laat suur uit die maag ontsnap terug na die slukderm en dit veroorsaak sooibrand.

Swem ná ete het werklik ’n negatiewe uitwerking

“Die effek daarvan verskil van mens tot mens, maar sportvoedingkundiges raai mense aan om ná ’n groot maal twee tot vier uur of ná ’n ligte happe tot ’n uur te wag voor hulle gaan swem,” het Kathryn aan Mail Online gesê.

As jy nou regtig iets moet eet voor jy gaan swem, beveel sy ’n ligte maaltyd aan en sê jy moet te veel proteïene, vet en vesel vermy aangesien dit langer verteer.

Is dit oukei om bruiswater te drink?

Dit is nou wel nie propvol suiker en kilojoules nie, maar die koolstofdioksied wat in die water opgelos het, skep koolsuur. Dit kan ons tande verweer en die enamel beskadig.

“Selfs net een glas kan veroorsaak dat mikroskopiese vlakke van die buitenste emalje oplos en as ons dan surigheid inkry, bly die suur 45 minute in die mond agter voor die pH-vlak weer normaliseer,” het prof. Andrew Eder van die Londense Universiteitskollege se Eastman- tandheelkunde-instituut verduidelik.

Die gegeurde variasies is dikwels propvol suiker, wat bekend is daarvoor dat dit tandbederf veroorsaak. As jy nie jou geliefkoosde drankie wil laat staan nie, stel Andrew voor jy drink dit deur ’n strooitjie om die negatiewe uitwerking te verminder.

Die smagting na soetgoed ná ete

Jy voel oorversadig ná ’n yslike maaltyd, maar jy kry dit tog nog reg om ’n paar blokkies sjokolade te eet.

Hoe?

Jy sal bly wees om te hoor dit is nie vraatsug wat nou inskop nie; dit is blote biologie: ’n oormaat van een voedselsoort por ons aan in die rigting van iets anders, dus sal soutigheid jou natuurlik na iets soets laat smag.

“Die voortgesette inname van een voedselsoort veroorsaak dat jy minder daarvan sal hou en eindelik sal jy nie meer eet nie,” sê dr. Denise Robertson, senior lektrise in voedingkundige sielkunde aan die Universiteit van Surrey. “Terselfdertyd verhoog jou hunkering na kos wat heeltemal anders is.”

© Cover Media