Verslankers word gewoonlik gemaan dat hulle waarskynlik vinnig weer gewig sal aansit as hulle te vinnig gewig verloor.

Maar volgens ’n Australiese ondersoek wat onlangs gepubliseer is, is dit onwaar.

Oor die lang duur het mense wat vinnig verslank en mense wat stadig verslank ’n ewe groot kans om die meeste van die gewig wat hulle verloor, weer aan te sit, toon navorsing wat in The Lancet Diabetes & Endocrinology gepubliseer is.

Die navorsers, onder leiding van Joseph Proietto van die Universiteit van Melbourne, het 204 vetsugtige mans en vroue in twee groepe verdeel.

Die een groep het ’n verslankingsprogram van 12 weke gevolg en die ander ’n geleideliker een van 36 weke.

Die 12-weke-groep is tot ’n dieet van 450-800 kalorieë per dag beperk, terwyl die ander groep se energie-inname met sowat 500 kalorieë per dag verminder is.

Diegene van albei groepe wat net meer as ’n tiende of meer van hul liggaamsgewig verloor het, is toe op ’n onderhoudsdieet van drie jaar geplaas.

Teen die einde van die proefneming het die mense in albei groepe gemiddeld amper driekwart van die gewig wat hulle verloor het, weer aangesit.

“Strydig met die algemene opvatting dat gewig wat vinnig verloor is vinniger weer aangesit word, toon ons bevindings dit is soortgelyk ná geleidelike of vinnige gewigsverlies,” sê die span.

“Ons data moet die komitees lei wat kliniese riglyne vir die bestuur van vetsug ontwikkel om hul raad te verander,” voeg hulle by.

Verslankers hoor dikwels ’n gewigsverliestempo van hoogstens 500 g per week is die beste.

Die navorsers wys op interessante korttermyn-verskille in hoe die twee groepe gereageer het.

Van die vinnige verslankers het meer hul doelgewig bereik – meer as twee derdes vergeleke met die helfte van die ander groep – en minder het die program verlaat.

Die aanvanklike sukses kan deels verklaar word deur ketose, ’n proses wat aan die gang gesit word deur lae kalorie-inname. Die liggaam verbrand vet om afbreekprodukte te skep wat as ketone bekend staan en daarvoor bekend is dat dit honger onderdruk.

“Vinnige gewigsverlies kan deelnemers ook aanmoedig om met hul dieet vol te hou en beter resultate te behaal,” sê die skrywers.

Maar dit maak geen verskil oor die langer termyn nie en die vet pak mettertyd weer aan.

“Vir gewigsverlies wen ’n stadige en standvastige benadering nie die wedren nie,” sê Corby Martin en Kishore Gadde van die Pennington biomediese navorsingsentrum in Amerika.

“Die mite dat vinnige gewigsverlies met vinnige gewigstoename verband hou, is nie waar nie.”

In kommentaar wat die wetenskapmediasentrum in Londen versprei, sê voedingkundiges die ondersoek bevestig dat volgehoue gewigsverlies ’n uitdaging bly, hoe dit ook al bereik is.

“Terwyl gewigsverlies moeilik is, is gewigsbehoud nog moeiliker,” sê Nick Finer, ’n endokrinoloog van die die universiteitskollege-hospitale in Londen.