Diabetes laat verouder ’n mens se verstand sowat vyf jaar vinniger as normaalweg en diegene wat in hul 50’s ’n diagnose kry, het ’n veel groter kans om teen 70 verstandelike agteruitgang te ervaar, toon nuwe navorsing.  

Vir die ondersoek, wat in die vaktydskrif Annals of Internal Medicine gepubliseer is, is meer as 15 000 Amerikaanse volwassenes van 1987 tot 2013 dopgehou.

Die navorsers het ’n vyfde meer verstandelike agteruitgang as wat verwag is by deelnemers met swak beheerde diabetes gevind en klein agteruitgang by diegene met beheerde diabetes en pre-diabetes.

Die ras van die pasiënte het geen invloed op hul uitslae gehad nie.

“Die les is, as jy ’n gesonde brein wil hê wanneer jy 70 is, moet jy reg eet en oefening doen wanneer jy 50 is,” sê die hoofskrywer, Elizabeth Selvin, ’n medeprofessor van epidemiologie by die Johns Hopkins Bloomberg School of Public Health.

“Daar is ’n beduidende kognitiewe agteruitgang wat met diabetes, pre-diabetes en swak glukosebeheer in verband gebring word by mense met diabetes. En ons weet hoe om die diabetes te voorkom of te vertraag wat met die agteruitgang verband hou.”

Diabetes kan toeslaan wanneer ’n mens verhoogde vlakke van suiker (glukose) in hul bloed het wat weefsel beskadig en blindheid en senuskade veroorsaak.

Diabetes kan dikwels met dieet en oefening, asook medisyne, beheer word.

“As ons beter daarmee kan vaar om diabetes te voorkom en te beheer, kan ons vir baie mense die oorgang tot demensie voorkom,” sê Elizabeth.

Demensie kos Amerika meer as R1,75 triljoen per jaar en die syfer sal na verwagting in die komende jare die hoogte inskiet namate die bevolking verouder, sê die navorsers.