Navorsing wat deur die Universiteit van Kopenhagen se sentrum vir gesonde veroudering en departement van biomediese wetenskap gedoen is, het bevind as ’n groep gesonde jong mense verhinder word om soos gewoonlik te stap, hulle ’n derde van hul spierkrag verloor. Die deelnemers het ook die stapvermoë gehad van iemand wat 50 jaar ouer is.

In die artikel wat in die Journal of Rehabilitation Medicine gepubliseer is, het navorsers daarop gewys dit neem drie keer so lank as jy onaktief was om jou oorspronklike krag terug te kry.

“Ons eksperimente het getoon onaktiwiteit beïnvloed spierkrag ewe veel by jong en ouer mans,” het dr. Andreas Vigelsoe gesê.

“As een been twee weke lank onaktief is, verloor jong mense tot ’n derde van hul spierkrag, terwyl ouer mense ongeveer ’n kwart daarvan verloor.

“ ’n Jong man wat twee weke lank nie beweeg nie, verloor spierkrag wat gelykstaande is aan veroudering van 40 of 50 jaar in sy been.”

Die bevindings het ook getoon jong mense verloor twee keer soveel spiermassa as ouer mense.

Dr. Vigelsoe stel voor jy sluit oefening met gewigte by jou fiksheidsroetine in om spierkrag te herwin.

“Hoe meer spiermassa jy het, hoe meer sal jy verloor. As jy fiks is en jou beseer, sal jy waarskynlik meer spiermassa verloor as iemand wat onfiks is,” het dr. Martin Gram gesê.

“(Maar) dit sal waarskynlik ’n groter uitwerking hê op (ouer mense) se algemene gesondheid en lewensgehalte.”

Mense wat, as gevolg van ’n besering, aan die bed gekluister is of nie kan loop nie, sal nie onmiddellik aktief kan raak nie.

Hierdie bevindings behoort egter as waarskuwing te dien vir mense wat van oefening wegskram.

In ’n ander studie is bevind een uit vyf mense in Brittanje stap minder as 15 minute per dag. Mense klim baie makliker in hul motor en ry, pleks daarvan om te stap. Dis hoog tyd dat ’n mens vars lug inasem en net ’n bietjie verder stap.

Beproefde raad, soos om een halte vroeër van die bus te klim, stasie toe te loop en trappe te klim, werk altyd. Probeer gerus ’n wandeling om die blok in jou etensuur of aan die einde van die dag as jy nie soggens tyd het nie.

© Cover Media