Dit kan lyk na ’n riskante saak om by jou ander helfte in te trek; sê nou net dié lê en saag heelnag balke? Of was nooit die skottelgoed nie? Of julle stem nooit saam oor wat julle op die televisie wil kyk nie?

Wel, slaak ’n diep sug van verligting as julle van voorneme is om die stap te neem, want die wetenskap reken saambly is goed vir jou emosionele welsyn. In ’n onlangse studie wat in die Journal of Family Psychology gepubliseer is, is bevind jong paartjies wat saamwoon, kry dieselfde voordele as wat hulle sou gehad het as hulle getroud was – veral in die geval van die vroue.

Jong paartjies wat saamwoon, kry dieselfde voordele as wat hulle sou gehad het as hulle getroud was

Navorsers aan die Universiteit van Ohio het reeds in 1997 met die projek begin om data te versamel van die National Longitudinal Survey of Youth, ’n studie wat fokus op 8 700 mense wat tussen 1980 en ’84 gebore is.

Daarna het die wetenskaplikes van 2000 tot 2010 elke jaar opvolg-onderhoude gehad met die deelnemers. Vrae wat hulle gevra is, het gefokus op die status van hul verhouding en die vlakke van hul emosionele angs.

Dit het aan die lig gekom dat vroue wat in hul eerste ernstige verhouding saam met hul maat gewoon het, dieselfde voordele gekry het as dié wat met hul eerste ernstige maat getrou het.

In hierdie stadium het trou “geen addisionele hupstoot” gebied nie. Mans, inteendeel, het slegs emosioneel baat gevind by hul eerste ernstige verhouding as hulle getrou het. Sake het interessanter geraak met die tweede ernstige verhouding. Mans en vroue het almal ’n emosionele hupstoot gelykstaande aan dié van getroud wees gekry as hulle bymekaar ingetrek het.

Dis nie nodig om te trou om die voordele van saamwoon in te oes nie

"Die jong mense in ons studie het moontlik die tweede keer geskikter maats gekies en dit is die rede waarom daar ’n daling in emosionele angs voorkom,” het Claire Kamp Dush, medeskrywer, verduidelik.

“Eens op ’n tyd is trou moontlik beskou as die enigste manier waarop jong paartjies die sosiale steun en kameraadskap ko kry wat belangrik is vir emosionele welstand. Maar dinge werk nie meer so nie; ons vind dis nie nodig om te trou om die voordele van saamwoon in te oes nie.”

Voor jy egter ’n deposito maak op jou eerste gedeelde huis, moet jy dalk ’n ander nuwe studie uit die Journal of Family Issues oorweeg: Navorsers aan die Universiteit van Wes-Washington het bevind volwassenes wat alleen bly, was liggaamlik gesonder as dié wat saamgewoon het – en hulle het ’n laer liggaamsmassa-indeks getoon.

© Cover Media