Volgens die navorsers kan slegs ’n hand vol van die neute, wat volop omega-3-vetsure bevat, die ontsteking in ingewandskankerselle, sowel as die bloedvoorraad na die gewas, verlaag. Dit vertraag die groei van die gewas. Ingewandskanker is die derde algemeenste soort kanker ter wêreld en die tweede grootste oorsaak van sterftes in Westerse lande; dus is dit van die uiterste belang dat daar navorsing gedoen word.

Okkerneute is ook uitstekend vir mense wat dieet, want dit help jou om langer versadig te voel en hulle is ’n maklike en gesonde happie om tuis of by die werk te geniet.

Daar is ook bevind dat ’n derde tot die helfte van ingewandskanker by mans en ’n vyfde by vroue voorkom sou kon word deur middel van 'n gesonder dieet en meer oefening.

Navorsers aan die mediese skool van Amerika se Harvard-universiteit het eksperimente op muise uitgevoer en hulle het agtergekom dat die gewasse in die muise wat ’n dieet met ’n hoë persentasie okkerneute gekry het, 10 keer meer omega-3’s bevat het as dié van die kontrolegroep.

Die ekwivalent van twee porsies okkerneute (ongeveer 57 g) van dié vir mense is aan die muise gevoer, terwyl die kontrolegroep op ’n soortgelyke dieet was, maar sonder die okkerneute.

“Ons navorsing toon dat ’n dieet van okkerneute merkwaardige veranderings veroorsaak in die uitdrukkingsprofiel van miRNAs in die kolorektale kankerweefsel,” het dr. Christos Mantzoros van die Harvard medies skool gesê.

Die groeitempo van die kankergewasse was ook aansienlik stadiger by die muise wat die okkerneute gekry het, maar dit is tans moeilik om te weet of dieselfde reaksie by mense sal voorkom.

Dit is egter nie ’n rede om nie ’n hand vol okkerneute te eet nie, aangesien dit in elk geval baie ander gesondheidsvoordele inhou. Die aminosuur L-arginien wat dit bevat, is baie goed vir die hart en bowendien is hulle ryk aan baie sterk antioksidante.

Okkerneute is ook uitstekend vir mense wat dieet, want dit help jou om langer versadig te voel en hulle is ’n maklike en gesonde happie om tuis of by die werk te geniet.

As jy idees soek oor hoe om okkerneute deel van jou eetplan te maak, probeer dit pleks van croutons by ’n slaai voeg vir ’n gesonde knars. Dit kan ook fyngemaal, en, pleks van broodkrummels, op hoender of vis gebruik word.

© Cover Media