Sommige mense is moontlik skaam om die kleiner gewigte in die gim nader te trek, maar dit behoort nie ’n probleem te wees nie aangesien die swaarder gewigte nie werklik spiermassa bou nie.

Navorsers het twee groepe mans – almal ervare gewigoptellers – bymekaargebring en hulle ’n heleliggaam-opdrag gegee om vir 12 weke te volg.

Een groep het ligter gewigte gebruik – tot 50 persent van hul maksimum krag – en 20 tot 25 herhalings, terwyl die ander mans gewigte van tot 90 persent van hul maksimum krag vir agt tot 12 herhalings gebruik het.

Lees ook: Oefen met gewigte – hoe jy nie moet maak nie

Albei groepe het die gewigte gelig tot hulle nie meer die krag kon bymekaarskraap nie en toe het die navorsers spier- en bloedmonsters bekyk. Die toename in spiermassa en die grootte van spierweefsel, ’n maatstaf vir krag, was feitlik dieselfde.

“Moegheid is die groot gemene deler hier,” het prof. Stuart Phillips van die McMaster-universiteit, hoofskrywer van die studiestuk, gesê. “Wanneer jy die gewigte oplig tot by die punt van uitputting, maak dit nie saak of die gewigte lig of swaar is nie.”

Hierdie bevindings is die jongste in ’n lang reeks waarmee in 2010 begin is, en wat die algemene opvatting weerlê dat die gebruik van swaarder gewigte die beste manier is om gespierd te raak.

“Op die punt van uitputting sou albei groepe gepoog het om hul spiervesels maksimaal te aktiveer om krag te genereer,” het Stuart bygevoeg en opgemerk dit is ’n doeltreffende manier om krag te verhoog, jou spiere te versterk en jou gesondheid te verbeter.

Lees ook: Dis hoe jy van daardie vet om die arms ontslae raak

“Ons het aan die ‘gewone sterfling’ wat net sterker wil raak, getoon jy kan ’n ruskansie vat ten opsigte van swaar gewigte optel en nogtans nie enige vordering kompromitteer nie. Dit is ook ’n nuwe opsie wat aan die behoefte van die massas sou kon voldoen en mense so ver kan kry om iets ter wille van hul gesondheid te doen.”

Rob Morton, medeskrywer, het ook daarop gewys dat testosteroon niks met verhoogde spiermassa te doen het nie; nog ’n gewilde wanopvatting.

“Dis ’n algehele mistasting dat die kortstondige verhoging in testosteroon, of die groeihormoon, ’n aandrywer is vir verhoogde spiermassa,” het Rob gesê. “Dit is hoogtyd dat hierdie soort denkwyse nek omgedraai word.”

Die studie se bevindings is in die Journal of Applied Physiology gepubliseer.

© Cover Media