Navorsers in Noord-Carolina het uitgevind mense wat vroeg oefen, verbrand nie net kilojoules voor hulle kos vir die dag inneem nie; hulle gee ook hul metabolisme vir tot 14 uur ’n hupstoot. ’n Hardloopsessie van 45 minute voor ontbyt sal jou help om ’n ekstra 125 kilojoules te verbrand, want daar is nie suiker of bederfies wat in die pad van ’n goeie sessie by die gimnasium of op die paadjies kan kom nie.

En, van paadjies gepraat, kyk in die rigting van die hond: skaf vir jou ’n hond aan, bied aan om die buurman se brak uit te neem of leen ’n familielid se troeteldier.

Lees ook: Só kan jy jou bakkie ontbytkos nog gesonder maak

Die mens se beste vriend is dol oor die vroeë oggende wanneer reuke vars is en die natuur vir ’n nuwe dag ontwaak. Bowendien sal ’n goeie draf- of stapsessie jou in die regte luim plaas vir die dag. Hoe groter die hond, hoe meer sal jy baat vind by ’n kragstap of -draf, veral as jy toelaat dat Wagter jou lei.

Jy behoort ook mooi te dink aan dit waarmee jy jou liggaam vul ná die oefening. Moenie die kilojoules wat jy pas verloor het, weer vervang nie, maar maak seker jy geniet ’n gesonde ontbyt wat jou op die res van die dag sal voorberei.

Voedingskundiges beveel aan dat, veral vroue, vir ’n eerste maaltyd van die dag vir 2,900 kilojoules moet mik. Dit sal hulle help om die hongerhormoon, grelien, uit die weg te ruim, en as dit met ’n goeie middagete gekombineer word, behoort die happiesoek-aanvalle ook sommer op ’n afstand gehou te word en dit sal jou hope energie gee vir ’n aandjie uit of ’n goeie wandeling ná werk.

Lees ook: Jogurt ‘verlaag risiko vir hoë bloeddruk’

En moenie al die ouvroustories oor ’n lekker koppie boeretroos glo nie. Koffie sal jou nie net energie gee nie, maar ’n skoot kafeïen sal ook jou liggaam help om ’n paar ekstra kilojoules te verbrand terwyl jy werk – dikwels vir tot drie uur, luidens die Amerikaanse Tydskrif vir Kliniese Voeding.

Geniet ook ’n vroeë middagete en wees op die uitkyk vir kosse wat dille of basilie bevat, aangesien dit kaempferol bevat, wat ’n goeie geheime soldaat is omdat dit die skildklierhormone aanval.

’n Vroeë middagete sal boonop tot ’n vroeë aandmaaltyd lei en dit sal die liggaam in staat stel om deur te stoom tot slapenstyd sonder dat een kilojoule vermors is.

© Cover Media