0611 Fitness Brokkie Image 1 1. Asem inhou   Om jou asem tydens enige oefening met gewigte in te hou kan maak dat jou bloeddruk gevaarlik styg. Die beste raad oor asemhaling wanneer en hoe tydens oefening met gewigte, is om uit te asem tydens die moeilikste deel van die oefening, en in te asem tydens die maklikste deel, wanneer jy ontspan. Hierdie asemhalingspatroon sal nie noodwendig natuurlik kom nie, veral nie as jy ’n beginner is nie. Jy sal dus met elke oefening bewustelik aan jou asemhaling moet dink. 2. Verkeerde liggaamhouding  

Mense plaas hulself dikwels nie in die veiligste posisie vir die oefening nie, maar liewer in die posisie wat vir hulle die gemaklikste voel. Tog kan gemak in een deel lei tot oorvergoeding deur die liggaam in ’n ander deel terwyl jy die oefening uitvoer.

Maak seker jy behou die volgende kontakposisies voor jy enige oefening doen waarin jy gewigte optel:

Oefeninge wat uitgevoer word op ’n sitplek wat na ’n stoel lyk of ’n bankie wat so lank is soos jou liggaam, vereis dat jy jou liggaam in ’n vyfpunt-kontakposisie moet plaas. Hierdie liggaamsdele of -segmente moet aan die sitplek of bankie asook die vloer of vloerplatform raak. Die vyf punte is:

  • Die agterkant van die kop
  • Borug en -skouers
  • Laer rug en -boude
  • Regtervoet
  • Linkervoet

Vir oefeninge waarin jy met jou gesig na onder lê, moet die grootste deel van die voorkant van jou liggaam in aanraking wees met die vloer en die apparaat se voetstukke of -handvatsels. Die regte posisie vir beenkrulle (kniekrulle) behels byvoorbeeld die volgende vyf kontakpunte:

  • Ken (of een wang as die kop na die kant gedraai is)
  • Bors/maag
  • Heupe/voorkant van die bobene
  • Regterhand
  • Linkerhand
3. Om jou maat te help oefen

’n Mens sien dikwels oefenmaats wat mense by hul boarms of elmboë ondersteun terwyl hulle ’n handgewigoefening bokant die kop of oor die gesig doen. Hierdie tegniek kan ’n besering veroorsaak as die een wat oefen se elmboë ingee terwyl die helper die boarms of elmboë oplig. Wanneer dit gebeur, sal die helper nie in staat wees om te verhoed dat die handgewigte op die ander een se kop, gesig, nek of bors val nie.

’n Baie veiliger tegniek is om jou maat se gewrigte naby die gewig in elke hand te ondersteun. Hierdie metode stel die helper in staat om baie gouer te help in ’n noodgeval, soos wanneer die gewig ineenstort of met enige fout tydens die uitvoer van die oefening.

*Onthou, as jy nie seker is oor enige posisie nie, kry professionele raad. Moenie raai wat reg is nie. Gewigte kan ernstige skade aanrig wanneer dit verkeerd gebruik word. Onthou, liewer bang Jan as dooi Jan.

Deur Sherman Baatjes, ’n dosent in sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.