’n Deurbraakmiddel wat mense tot diep in hul 120’s gesond kan laat leef, sal volgende jaar op mense getoets word. Wetenskaplikes meen die teenverouderingsmiddel, wat ’n eerste ter wêreld is, sal ook kwale soos Alzheimer- en Parkinsonsiekte uitwis. Die deurbraak kom nadat bevind is die diabetesmiddel metformien verleng die leeftyd van diere. Die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie (FDA) het sedertdien toestemming gegee om te toets of die middel ’n soortgelyke uitwerking op mense kan hê.

“Dis revolusionêr. Dit het nog nooit voorheen gebeur nie”

“As jy die verouderingsproses teiken en jy vertraag dit, vertraag jy ook al die siektes en patologie daarvan,” sê die verouderingskenner prof. Gordon Lithgow, wat ook aan die ondersoek gewerk het.

“Dis revolusionêr. Dit het nog nooit voorheen gebeur nie.”

Metformien word as een van die goedkoper beskikbare medisyne beskou en werk deur meer suurstof in die selle vry te stel. Dit maak die selle gesonder en daarom leef dit langer.

Navorsers by die Cardiff-universiteit het die verband tussen die diabetesmiddel en langlewendheid die eerste keer bespeur. Hulle het bevind pasiënte wat met metformien behandel word, leef langer as mense daarsonder.

“Verrassend genoeg dui die bevindings daarop dat die goedkoop en algemeen voorgeskrewe diabetesmiddel dalk voordele inhou nie net vir pasiënte met diabetes nie, maar ook vir mense daarsonder en, interessant genoeg, mense met tipe-1-diabetes,” sê prof. Craig Currie van die Cardiff-universiteit se mediese skool.

“Metformien het bewese voordele teen kanker en hartvatsiektes. Dit kan ook pre-diabete se kans op die siekte met ’n derde verminder.”

Bronne: news.nationalpost.com, telegraph.co.uk