Die Britse span het ’n toets ontwerp wat bepaal hoe vinnig iemand se liggaam verouder. Dit bereken iemand se “biologiese ouderdom”, pleks van sy werklike ouderdom. Hulle beskou dit as belangrik, aangesien mense wat biologies ouer is as hul jare, se risiko vir dimensie later groter is.

Die span van King’s College in Londen het 700 oënskynlik gesonde 70-jarige vrywilligers getoets en hul biologiese ouderdom het met meer as 20 jaar verskil – van onder 60 tot bo 80.

Die toets het aan elkeen ’n “verouderingspuntestelling” toegeken wat gegrond is op genetiese merkers in hul bloed. Omdat biologiese ouderdom so geweldig verskil, hoop die wetenskaplikes dit kan dokters se benadering tot ouderdom verander wanneer hulle pasiënte raad gee en besluit oor behandeling en medikasie.

“Ons gebruik die geboortejaar of chronologiese ouderdom om enigiets van versekeringspremies tot die wenslikheid van ’n mediese prosedure te bepaal,” het prof. James Timmons, hoofnavorser, gesê.

“Die meeste mense aanvaar alle 60-jarige mense is nie eenders nie, maar daar was nog nie ’n betroubare toets vir onderliggende biologiese ouderdom nie.”

Die span meen die toets sal nie net medici se benadering toe dimensie verander nie, maar ook van onskatbare waarde wees in die soeke na nierskenkers. Tans gebruik dokters ouderdom om te bepaal of iemand geskik is om ’n orgaan te skenk, maar die gebruik van biologiese ouderdom kan dié proses selfs akkurater maak.

© Cover Media