Volgens ’n studie beïnvloed die chemikalieë wat in die toestelle gebruik word die manier waarop die liggaam homself herstel, en dit kan die rede verduidelik waarom sommige e-sigaretgebruikers dikwels aan irriterende mondsere en -swere ly.

Toksologiekenners aan die Universiteit van Rochester in New York het beskadigde menslike longweefsel in ’n laboratorium aan die dampe van e-sigarette blootgestel. Hulle het die weefsel gewond deur dit te krap, wat veroorsaak het dat sommige van die selle, bekend as fibroblaste, verander en begin het om die skade te herstel. Dit behels normaalweg nuwe weefselgroei terwyl die ou selle krimp en die sny toemaak.

Maar in aanraking met die geurchemikalieë en nikotien van e-sigarette word die fibroblastselleontneem van die energie wat dit nodig het om die wond behoorlik te genees.

“Daar word geglo dat dit minder skadelik is as konvensionele rook, maar ons data toon dat e-sigarette tot ander gesondheidsprobleme behalwe longskade kan lei,” het die studieleier, dr. Irfan Rahman, gesê.

Irfan sê nog navorsing is nodig om te bepaal watter uitwerking die dampe op die longe en mond van mense het, maar meen dit kan die oorsaak wees van die gedurige sere en swere waaraan gebruikers van e-sigarette ly.

Hierdie bevindings, wat in die tydskrif Scientific Reports gepubliseer is, volg op die dokter se vorige ondersoek na die verband tussen e-sigaretdampe en ontsteking in die mond, wat tandvleissiektes en -verlies kan veroorsaak.

“Hoeveel en hoe gereeld iemand gegeurde e-sigarette rook of dampies maak, sal die mate van skade aan die tandvleis en mondholte bepaal,” het hy gewaarsku.

Byna 3 miljoen volwassenes in Brittanje het e-sigarette gebruik in die dekade dat dit op die mark is. Na raming het dié toestelle elke jaar 22 000 mense gehelp om op te hou rook.

Hoewel e-sigarette beskou word as ’n veiliger keuse as tabak, waar die vloeibare nikotien ingeasem word sonder die skade wat tabakrook veroorsaak, word ’n reeks gesondheidsprobleme steeds met die toestelle verbind.

In navorsing deur prof. Judith Zelikoff van die New York Universiteit is gewaarsku teen die gevaar wat e-sigarette inhou vir ongebore babas. Judith meen dis erger as brandende tabak.

Prof. Elvis Irusen, hoof van die afdeling pulmonologie in die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en longspesialis, sê die bevindings in die nuwe studie verbaas hom nie.

“Die e-sigaret het dieselfde skadelike uitwerking as ’n konvensionele sigaret. Dit bevat dieselfde chemikalieë, net in laer konsentrasies. Dit verbaas my glad nie dat die rook van ’n e-sigaret verhoed dat wonde genees nie omdat ’n konvensionele sigaret dit ook doen.”

Hy meen e-sigarette word meer aantreklik gemaak vir die publiek in verskillende vorms en kleure.