Onlangse syfers toon meer as nege uit elke 10 kleuters kry nie genoeg oefening om gesond te bly nie.

Die voordele van aktief wees sluit gesonde bene en steun aan verstandelike ontwikkeling in, terwyl dit ook help met die aanleer van sosiale en breinvaardighede.

Deskundiges het nou die Britse regering gevra om nuwe maniere uit te dink om meer oefengeleenthede vir kinders te skep.

Lees ook: Só het SA man 151 kg afgeskud

Die British Heart Foundation National Centre for Physical Activity and Health (BHFNC), met sy basis by die Universiteit van Loughborough, vra dat politici bepalings vir meer oefengeleenthede by hul beleid moet insluit om jong kinders by die kleuterskool en in hul gemeenskappe meer kans te bied om aktief te bly.

“Hierdie manifes gee riglyne oor hoe ons ’n omgewing vir ons kinders kan skep wat hulle aanmoedig en stimuleer om aktief te bly,” het Elaine McNish, direkteur van BHFNC, gesê.

“Ons weet aktiewe kinders is meer geneig om aktiewe volwassenes te word; dus is dit van lewensbelang om dit van die begin af reg te doen en kinders kanse te bied om van jongs af te speel en ’n lewenslange liefde vir aktief wees te ontwikkel.”

Lees ook: 5 waarskuwingstekens jy is dalk op die verkeerde dieet

Dit raak gaandeweg ál moeiliker om die probleem van vetsug by volwassenes op te los; dus word daar geglo dat indien ’n aktiewe leefstyl van kleins af aangemoedig word, kan dit help om gewigsprobleme te vermy wanneer die kinders ouer word.

“Ons weet dat liggaamlike aktiwiteit vir almal ’n belangrike deel van ’n gesonde leefstyl uitmaak, en dié onder vyf is geen uitsondering nie,” het Lisa Young, projekbestuurder vir voorkoming en gedragsveranderinge by die Britse Hartstigting, bygevoeg.

“Dit is belangrik om van kleins af ’n liefde vir beweging aan te kweek, aangesien ons weet aktiewe kinders word aktiewe volwassenes en aktiewe volwassenes is gesonder volwassenes.”

© Cover Media