Maar dié produkte is op die lange duur nie noodwendig so voordelig vir jou nie, waarsku navorsers. 

Akademici by die Universiteit van Manitoba se George and Fay Yee Centre for Healthcare Innovation het die resultate bestudeer van 37 studies wat waaraan 400,000 mense oor gemiddeld 10 jaar deelgeneem het.

Hulle het gevind dat die inname van kunsmatige versoeters, soos aspartaam, sukralose en stevia, algemeen voorkom en dat dit aan die toeneem is.

Maar terselfdertyd het hulle gesien daar is ’n verband tussen kunsmatige versoeters en betreklik hoër risiko’s vir gewig aansit en vetsug, hoë bloeddruk, diabetes, hartsiektes en ander gesondheidskwessies.

"Ten spyte daarvan dat miljoene mense gereeld kunsmatige versoeters inneem, is daar betreklik min pasiënte by kliniese toetse vir dié produkte ingesluit,” is die mening van dr. Ryan Zarychanski, skrywer van die verslag.  

“Ons het gevind dat data van kliniese toetse nie die bedoelde voordele van kunsmatige versoeters vir gewigsbeheer duidelik steun nie.”

Daar is ook data wat daarop dui dat kunsmatige, of nie-voedende, versoeters negatiewe uitwerkings kan hê op metabolisme, bakterieë in die dermkanaal en aptyt, maar die bewyse is teenstrydig.

Die hoofskrywer, dr. Meghan Azad, het na aanleiding van die bevindings gesê mense moet mooi dink of hulle werklik produkte met kunsmatige versoeters moet inneem.

"Wees liewer versigtig totdat ons heeltemal seker is oor die langtermynuitwerking van kunsmatige versoeters op die gesondheid,” het sy gesê en bygevoeg dat daar nog meer navorsing gedoen moet word om die langtermyn- risiko’s en -voordele van dié produkte te bepaal.

Die volledige studiestuk is in die Canadian Medical Association Journal gepubliseer.