Atopiese ekseem is ’n aandoening wat die vel jeukerig, rooi, droog en gebars laat en is gewoonlik ’n langtermynprobleem.

Navorsers aan die Universiteit van Edinburgh het bevind die chemikalie stikstofmonoksied word vrygestel nadat ’n pasiënt blootgestel is aan ultravioletlig (UV), wat sonlig naboots, en dit verlig die ontsteking. 

“Ons bevindings dui daarop dat stikstofmonoksied kragtige anti-inflammatoriese eienskappe het wat ’n alternatiewe geneesmiddel kan bied vir mense wat aan ekseem ly,” het dr. Anne Astier, die hoofnavorser, gesê. 

“Die aktivering van regulerende T-selle wat hierdie roete gebruik, kan ook ’n mikpunt bied vir die ontwikkeling van behandeling vir ander aandoenings wat lei tot ooraktiewe immuniteitsresponse, insluitend outo-immuniteitsaandoenings en die verwerping van oorplantings.”

UV-terapie word dikwels voorgeskryf vir pasiënte met erge ekseem. Dit verminder inflammasie van die vel en verlig verskeie inflammatoriese velaandoenings. Die terapie kan egter newe-effekte hê, soos branderigheid, blase, vervroegde velveroudering en droë, jeukende vel.

Al gaan sonsitsessies in jou agterplaas waarskynlik geen uitwerking op ekseem hê nie, sê die navorsers die nuwe bevindings kan lei tot alternatiewe vorms van ligterapie. 

Prof. Richard Weller, ’n senior medeskrywer, het gesê akademici kan die verskynsel nou verder navors. 

“Dit is duidelik die gesondheidsvoordele van sonlig strek aansienlik verder as vitamien D. Ons win ál meer inligting in.” 

Die volledige studie is in die Journal of Allergy and Clinical Immunology gepubliseer.