Dié wat aan ernstige angs ly, moet hul dokter spreek en kognitiewe gedragsterapie of medikasie oorweeg, maar dié wat matige ongemak ervaar, kan natuurlike behandeling oorweeg.

Daar is in studies bevind dat die krui kava die simptome van algemene angssteuring kan verlig. Maar doen eers navorsing, want dit kan met sekere medikasies bots en reaksies, soos euforie of verlies aan spierbeheer, veroorsaak.

Ons stel voor dat jy met ’n kenner gesels, so ook as jy dit oorweeg om inositol te beproef. Dit is ’n vitamienagtige middel en daar word beweer ’n dosis van tussen 12 en 18 g per dag kan help met die uitwerking en gereeldheid van paniek-aanvalle en die simptome van obsessief-kompulsiewe steuring.

Nog ’n maklike keuse is kruietee; duiwelsklou- en passieblomtee is glo veral doeltreffend teen angs en senuweeagtigheid. Die drinkaksie op sigself kan jou kalmeer omdat dit ’n stadige, herhalende beweging is; boonop probeer mense gewoonlik ontspan terwyl hulle dit doen.

Daar word vermoed die vloeistof-inname is ook voordelig omdat dit jou simptome kan vererger as jy nie genoeg vloeistof in jou stelsel het nie. Onthou, kruietee is net ’n vinnige manier om simptome te help verlig, en as jy steeds angstig is, moet jy iets anders oorweeg.

So ook kan akupunktuur gebruik word en kan vir sommige mense doeltreffend wees, maar jy sal ’n gelisensieerde praktisyn moet soek.

Ander keuses wat jy ook kan oorweeg, is dagboek hou en gereelde oefening. Dit kan help as jy jou bekommernisse neerpen; jy kan dit verwerk en ’n aksieplan in werking stel. Soms help dit ook dat jy agterkom wat jou angstig maak.

Daar is al bewys dat oefening goed is vir depressielyers en dit geld ook vir angslyers – hulle vlak van die oordragstof gamma-aminobottersuur is laag, en oefening verhoog die vlakke daarvan.

© Cover Media