“Vanjaar is een van Suid-Afrika se natste winters en gewoonlik beteken ’n reënerige voorseisoen gevolg deur genoeg sonlig ’n aansienlike toename van stuifmeel in die lug. Dit lei tot hooikoors,” het die woordvoerder Mariska van Aswegen in ’n verklaring gesê.

Seisoenale allergieë soos hooikoors word gewoonlik veroorsaak deur stuifmeel van hoofsaaklik gras, maar kan ook deur die stuifmeel van bome, grasse of onkruid veroorsaak word.

Al stel die grasspesies gewoonlik deur die jaar stuifmeel vry, veroorsaak die koue seisoene dat gras die stuifmeel “vroeër en kragtiger” vrystel, het Mariska gesê.

“As gevolg van swaar winterreën voorspel aërobioloë ’n swaar grasstuifmeelseisoen, wat waarskynlik in Oktober sy hoogtepunt gaan bereik en in Desember geleidelik gaan afneem.

“Volgens kenners kort stuifmeel net ’n paar sonnige, winderige dae om te versprei; dit gaan allergielyers ’n blik gee op wat die res van die seisoen op hulle wag.”

Mariska het gesê die gebruik van allergiemedikasie, soos antihistamiene, is die beste manier om hooikoors te beveg.

“Hooikoorslyers moet die medikasie aanhou neem, al verlig verspreide reën hul simptome.”

Sy het gesê dié wat allergies is vir stuifmeel, moet minstens twee weke voor die begin van die seisoen hul medikasie begin neem, want dit kan simptome soos ’n “jeukerige, loperige of toe neus, geïrriteerde en waterige, rooi oë en ’n seer keel insluit”.

Hooikoorslyers moet blootstelling aan stuifmeel ook sover moontlik vermy.

Hulle moet deure en vensters toe hou om te verhoed dat stuifmeel hul huis binnekom, hulle moet waaiers vermy en liewer lugversorging kies omdat dit in ’n vertrek en motor die gehalte van stuifmeel verlaag, en hulle moet op dae met baie stuifmeel bedags tussen tien- en vieruur binnebly.

Mariska het ook voorgestel dat lyers hul klere was nadat hulle buite was om te verhoed dat stuifmeel daaraan vassit. Hulle moet ook nie klere buite ophang nie.

Voorts moet hulle op die weerstoestande let.

“Wisselvallige weerstoestande, insluitend reënbuie, gevolg deur sonskyn en wind begin die kringloop opnuut en gaan waarskynlik die seisoen langer maak,” het Mariska gesê.