Party mense beskou hulself as ’n oggendmens, terwyl ander sê hulle is ’n naguil. Maar dit maak mos nie saak nie, mits jy net genoeg slaap kry, of hoe? Toe nou nie.

Nuwe navorsing aan die Mediese Universiteitskollege van Korea dui daarop dat naguile meer geneig is om diabetes te kry – al kry hulle net soveel slaap as mense wat vroeër inkruip.

Wetenskaplikes het meer as 1 600 mense in hul 40’s en 50’s oor hul slaapgewoontes uitgevra om vas te stel of hulle laat wakker bly of nie. Die mans en vroue moes ook bloedmonsters verskaf en skanderings van hul liggaamsvet en bene ondergaan. Daar is bevind dat hoewel die naguile jonger is, hul gesondheid veel swakker is. Hul nagroetine ontwrig hul liggaamshorlosie en eetgewoontes so baie dat dit ’n sneeubal-uitwerking op hul gesondheid het en onder meer tot meer liggaamsvet en ongesonde vette in hul bloed lei.

Daar is bevind dat hoewel die naguile jonger is, hul gesondheid veel swakker is.

Die mans het ’n drie keer groter kans vir diabetes gehad en vier keer groter vir sarkopenie, die afbrekende verlies van skeletspieremassa wat krag en beweeglikheid benadeel.

Vroulike naguile het weer ’n groter kans gehad vir ’n boepmaag en metaboliese sindroom – ’n kombinasie van diabetes, hoë bloeddruk en vetsug.

Die uitslae is in die Journal of Clinical Endocrinology & Metabolism gepubliseer.

Die navorser dr. Nan Hee Kim sê die verklaring lê dalk in naguile se “geneigdheid om swakker slaapgehalte te hê en hulle aan ongesonde gedrag soos rook, laataand-etery en ’n onaktiewe leefstyl skuldig te maak”.

Laatnag blootstelling aan lig is glo een van die redes waarom mense later wakker bly.

Aan die ander kant toon vorige navorsing mense wat later gaan slaap, is slimmer en ryker.

© Cover Media