Wel, solank jy dit vir ontbyt eet.

Navorsers by die Tel Aviv-universiteit het bevind as nagereg as deel van ’n gebalanseerde ontbyt van 600 kalorieë geëet word, kan dit jou op die lang termyn help gewig verloor en help keer dat jy dit weer aansit.

Wetenskaplikes het tydens ’n studie van 32 weke bevind deelnemers wat soggens hul suikertand bevredig het, het gemiddeld 18 kg meer verloor as diegene wat dit nie gedoen het nie. Die nagereg-groepie het selfs die gewig oor ’n langer tydperk afgehou.

Die 193 klinies vetsugtiges wat aan die studie deelgeneem het, is in twee groepe verdeel wat albei dieselfde hoeveelheid kalorieë per dag ingeneem het. Die mans het 1 600 en die vroue het 1 400 kalorieë ingeneem. Die eerste groep het ’n lae-koolhidraatdieet gevolg wat ’n klein ontbyt met 300 kalorieë ingesluit het en die tweede groep het ’n ontbyt van 600 kalorieë geëet, wat baie proteïene en koolhidrate bevat en altyd nagereg, soos sjokolade, ingesluit het.

Volgens die studie, wat in die joernaal Steroids gepubliseer is, is die geheim om soggens aan die lekkergoed weg te lê om jou metabolisme tyd te gee om die soetgoed deur die loop van die dag te verwerk.

“Ontbyt gee jou die nodige energie vir die dag se take, help met breinfunksionering en gee die metabolisme ’n hupstoot, wat belangrik is vir gewigsverlies en -instandhouding,” verduidelik die navorser prof. Daniela Jakubowicz. “Ontbyt is ook die maaltyd wat ghrelien, die hormoon wat hongerte laat toeneem, die beste reguleer. Hoewel die ghrelienvlakke voor elke ete styg, word dit met ontbyt op sy doeltreffendste onderdruk. Om kosdrange te beheer is beter as om jou van sekere kosse te ontneem om suksesvolle gewigsverlies te verseker.”

- KIRSTIN BUICK

Bronne: sciencedaily.com, cosmopolitan.com