Volmaakte naels, of dit nou 'n duursame Shellac-naellak is of 'n Franse manikuur, is deesdae vir baie vroue 'n hoë prioriteit. 'n Wetenskaplike het egter bevind dat die chemikalieë in hierdie produkte 'n ernstige uitwerking op ons gesondheid kan hê.

Dr Thu Quach, van die Stanford Universiteit en die Cancer Prevention Institute van Kalifornië, sê blootstelling aan hierdie bestanddele kan lei tot kwessies wat wissel van kanker tot vrugbaarheidsprobleme.
'Naelsorgprodukte bevat baie toksiese en potensiaal gevaarlike bestanddele in wisselende hoeveelhede.'

“Naelsorgprodukte bevat baie toksiese en potensiaal gevaarlike bestanddele in wisselende hoeveelhede,” het sy in The Conversation geskryf. “Chemiese bestanddele in die produkte wissel van kankerwekkende komponente, soos formaldehiede, tot dié wat hormone ontwrig.”

Dr Quach het ook gesê navorsers het tolueen, fomaldehiede en dibutiel-ftalaat – wat die bynaam die ‘toksiese trio’ gekry het weens hul ernstige impak op die gesondheid – geïdentifiseer as drie chemikalieë wat hoë kommer wek.

Tolueen gee aan naellak die gladde afwerking en dit verhoed dat die kleur in die bottel skei. Dit kan egter na bewering die sentrale senuweestelsel aantas en dit kan ook probleme veroorsaak ten opsigte van voortplanting.

Blootstelling aan dibutiel-falaat, wat by naellak gevoeg word om buigbaarheid te verskaf, word aan probleme met voortplanting gekoppel.

Dr Quach se navorsing lê oënskynlik egter meer klem op salonwerkers, in teenstelling met 'n persoon wat net af en toe haar naels in die gerief van haar eie huis verf.

“Werkers wat in naelsorgsalonne werk, betaal 'n baie groot prys ten opsigte van hul gesondheid,” het sy voortgegaan.

“Blootstelling aan naelsorgprodukte wat skadelike chemikalieë bevat kan die gesondheid op verskeie maniere skaad. Dit kan wissel van vel-irritasies tot oogskade en allergiese reaksies. Navorsigstudies, insluitend my navorsing by die Cancer Prevention Institute van Kalifornië, het akute uitwerking op die werkers se gesondheid aangeteken. Dit sluit hoofpyn, asemhalingsprobleme en vel-irritasies in wat gewoonlik geassosieer word met oorblootstelling aan oplosmiddels wat in hierdie produkte gebruik word. ”

© Cover Media