Ná ’n wilde naweek of ’n hele week se drinkery toe jy met vakansie was, het jy dalk besluit om alkohol vaarwel toe te roep en jou liggaam ’n nodige ruskans te gee.

Dis egter ’n taai opsie as jy moet uitwerk hoe om die dranktrein in sosiale situasies te vermy of ná ’n stresvolle week by die werk. Dit is die rede waarom ons jou ’n paar wenke gee wat die proses makliker en prettiger kan maak.

Beskou dit as ’n uitdaging:

As dit nie “droë Januarie” is nie en jy is nie swanger nie, gaan mense begin uitvra na die rede waarom jy besluit het om so iets te doen.

Moenie huiwer om aan jou familie en vriende te sê jy het vir jouself ’n uitdaging gestel en dat jy hul hulp nodig het om dit deur te sien nie. Hou jou antwoord op die vraag “Drink jy dan nie?” kort en bondig, en indien iemand aanbied om vir jou iets te drinke te koop, bestel ’n koeldrank of koffie – jy gaan nie die volgende oggend spyt wees nie.

Maak planne wat alkohol uitsluit

Jou sosiale bedrywighede hoef nie om ’n kroeg te wentel nie. As die weer dit toelaat, kan jy saam met ’n vriend na ’n park gaan sodat julle die agterstallige nuus kan inhaal of gaan kyk na daardie uitstalling wat jy al weke lank graag wil sien.

Jy gaan vergeet van jou alkoholvrye lewe en meer gekultiveerd voel. Indien jy enkellopend is, kan jy heel moontlik ’n interessante gesprek voer met ’n moontlike geliefde -- sonder ’n bierbril.

Hou die rede vir jou onthouding in gedagte

Of jy nou vir goed ophou drink het en of jy net ’n ruskansie neem, dink in oomblikke van swakheid aan die redes waarom jy die besluit geneem het.

Maak ’n lysie van die redes, noem dit hardop of bespreek dit met iemand anders. Terwyl jy daarmee besig is, vervang jou drinkery met iets anders waarby jy persoonlik sal baat vind. Gebruik byvoorbeeld die tyd en geld wat jy altyd aan alkohol bestee het, vir gimnasiumklasse of om ’n aandkursus te volg.

Glipsies beteken nie mislukking nie

Almal maak foute. As dit gebeur dat jy een of twee keer ’n drankie geniet terwyl jy probeer “droog” bly, hoef jy nie ’n maagseer daaroor te ontwikkel nie. Skud jou glipsie af, herstel daarvan en gaan voort – dit is nie die einde van die wêreld nie.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot

Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly