In ’n onlangse studie word beweer selfs net een koppie tee per dag kan jou risiko vir beroerte en hartsiektes verlaag.

Navorsers aan die John Hopkins-hospitaal in die VSA het bevind mense wat elke dag ’n koppie tee drink, se kans om ’n hartaanval of ’n ander groot kardiovaskulêre aandoening te kry, is meer as ’n derde minder as by mense wat nie tee drink nie.

Dr. Elliott Miller, die navorser, het verduidelik die bevindings het ook aangetoon dit is minder waarskynlik dat kalsium in die kroonslagare van teedrinkers sal opbou.

Die navorsers sê kalsiumneerslag word reeds in verband gebring met ernstige siektes, soos hartsiektes en beroertes.

“Ons het bevind daar is minder kalsium in die kroonslagare van teedrinkers, en siektes van die hartvatstelsel, kom ook minder dikwels voor.”

Die navorsers het data van meer as 6 000 mans en vroue bestudeer wat deelgeneem het aan ’n deurlopende studie wat in 2000 begin het.

Lees ook: Maak sout dalk jou kind vet?

Die rekords van die manlike en vroulike deelnemers is oor 11 jaar nagevors om vas te stel wie ’n hartaanval, beroerte of borskaspyn gekry het, of gesterf het aan ander soort hartsiektes.

Kalsiumneerslae in die bloedvate is ook oor vyf jaar gemeet deurdat vroeëre gerekenariseerde tomografieskanderings (CT-skanderings) met dié wat later gedoen is, vergelyk is.

Die navorsers kon nie uitsluitsel gee oor die heilsaamheid van meer as drie koppies tee per dag ten opsigte van ’n gesonder hart nie, aangesien baie min van die deelnemers meer as vier koppies tee per dag gedrink het.

Die mans en vroue wat aan die proefneming deelgeneem het, het óf swart óf groen tee gedrink, maar die bevindings hou nie verband met ’n spesifieke soort tee nie.

Lees ook: Ses redes waarom jy meer groentee behoort te drink

Elliott kan nog nie met sekerheid sê hoekom die tee kan help nie. In vorige navorsingstukke is verklaar dat die flavonoïede – ’n soort antioksidant wat in tee voorkom – moontlik verantwoordelik is hiervoor en dalk ’n beskermende uitwerking op die hart het.

Hy waarsku dat dit voortydig is om na aanleiding van die studieresultate raad te gee ten opsigte van tee en hartgesondheid.

“Dis nog te vroeg om te beweer dat tee jou sal help teen hartvatsiektes, soos hartaanvalle en beroertes. Maar daar word tog gesuggereer dat tee beskermend kan wees of dat teedrinkers oor die algemeen gesonder is.”

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

Hierdie 19-jarige perderuiter is die wêreld se jongste biljoenêr

‘Ons kruip weg vir veiligheidspolisie,’ vertel vasgekeerde SA gesin angsbevange uit Oman

Talle diere vrek ná hul vergiftigde karkas in Krugerwildtuin vreet

Jong en gewilde sport aanbieder dagvaar vir miljoene oor naakvideo

Internet gaande oor hondjie met draadjies