Nie ’n dag gaan verby nie of ons hoor iets anders oor alkohol: Eers hou rooiwyn die hart gesond, en dan weer kan net ’n klein bietjie drank kanker veroorsaak.

Voor jy dus begin skuldig voel oor die verfrissende biertjie of die glasie rooiwyn onaangeraak laat, lees gerus hier: In ’n onlangse studie is bevind matige drankinname kan in werklikheid hartaanvalle en beroertes voorkom.

Navorsers aan die Harvard-Universiteit het bevind al versnel ’n mens se hartklop en word die normale hartritme omgekrap in die eerste drie uur nadat jy drank ingeneem het, beskerm matige alkoholinname die hart ná 24 uur deur die bloedvloei en werking van die bloedvate te verbeter.

Dit verminder ook klontvorming.

Lees ook: Van ‘plasentadrankies’ tot kriekmeel: Dié is die vreemdste kosgiere waarvan jy moet weet

Dit word op sy beurt gekoppel aan ’n laer risiko vir ’n hartaanval of ’n beroerte wat deur bloeding op die brein veroorsaak word.

En daar is bevind sewe dae ná alkoholinname is die risiko laer vir ’n beroerte wat deur ’n bloedklont veroorsaak word.

Die wetenskaplikes definieer matige alkoholinname as ses drankies per week. As iemand egter meer drink, byvoorbeeld 15 drankies of meer vir mans en agt of meer vir vroue, is die risiko vir ’n hartaanval of beroerte hoër.

Dit geld vir die tyd onmiddellik ná drankinname, sowel as op lang termyn.

Die span van Harvard het 23 studies nagegaan waarby 30 000 deelnemers betrek is om tot hierdie gevolgtrekking te kom.

Lees ook: ’n Koppie tee per dag kan die hart gesond hou

Dr. Elizabeth Mostofsky van Harvard merk op: “Dit lyk asof daar kortstondig ’n hoër risiko bestaan vir hartaanvalle en beroertes in die paar uur nadat alkohol gedrink is, maar binne ’n dag ná die inname is slegs groot hoeveelhede alkohol ’n groter oorsaak van hartvatsiektes.”

“Onmiddellik nadat jy alkohol gedrink het, styg jou bloeddruk, jou bloedplaatjies word kleweriger en dit verhoog die risiko vir hartaanvalle en beroertes.

“As jy egter gereeld klein hoeveelhede alkohol oor ’n lang tydperk geniet, blyk dit dat die HDL-cholesterolvlakke (die sogenaamde goeie cholesterol) verhoog en die geneigdheid tot klontvorming verlaag,” het sy verduidelik, en bygevoeg: “As jy alkohol drink, doen dit matig.”

Die bevindings is in die tydskrif Circulation van die Amerikaanse Hartstigting gepubliseer.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Verpletterde’ Carl maak hart oop oor Oscar se appèl-uitslag

Kyk: ‘Ons wil die beste in die wêreld wees’ – sê Stormers-kaptein oor sy span se Superrugby-kanse

Hierdie vrou is verskriklik fiks – en boonop 36 weke swanger!

Munisipale verkiesing 2016: Registreer so dié naweek