Seliakielyers hoef egter nie smaaklike smulgoed te ontbeer nie, want daar is velerlei maniere om klassieke geregte met glutenvrye bestanddele te berei.

Pasta

Meelblom is ’n bestanddeel van pasta en dit kan dus ’n chaos in jou dunderm veroorsaak. So graag soos wat jy dus pasta sou wou eet, is dit eenvoudig nie die moeite werd nie! Daar is so baie soorte noedels, byvoorbeeld rysnoedels, wat jy kan inspan om ’n smaaklike pot spaghetti bolognese te maak. Dun variasies word vermicelli genoem en die dikkeres lintnoedels – dit sou net sowel pasta kon wees!

Of, as jy lus is vir ’n ligter, gesonder keuse, gebruik 'n spiraalsnyer op murgpampoentjies om “courgetti” te maak. Dit is verspot maklik om dit gaar te maak: roerbraai dit net liggies en sit voor met ’n sous!

Brood

Daar is gelukkig, soos met die meeste kossoorte, glutenvrye keuses. As jy egter met ’n rein gewete’n lipleklekker burger wil maak, vervang die broodrolletjie met slaaiblare. Iceberg of Romain is stewig genoeg om ’n vulsel te kan hou, en jy kan hulle ook vir tacos of toevoubroodjies gebruik.

As jy mooi daaroor dink, is die inhoud van bogenoemde happies die belangrikste bestanddeel, eerder as die stewige brood. Of gebruik tortillas wat van mieliemeel gemaak is; dit is net so smaaklik soos die tradisionele variasie, maar sonder die gluten. As jy braaf genoeg voel, kan jy selfs jou eie brood bak van rysmeel.

Aartappelskyfies

Jy behoort nie ’n pak aartappelskyfies uit die winkel nader te trek nie, want van die smaakmiddels en ander bestanddele kan dalk gluten bevat. As jy wil seker maak geen gluten sluip in nie, is dit veiliger om jou eie aartappelskyfies te maak.

Al wat jy moet doen, is om die aartappels in dun skyfies te sny (of maak die happie gesonder deur patats te gebruik) en plaas dit in ’n enkellaag in ’n bak in die mikrogolfoond. Geur dit volgens jou smaak en val weg!

© Cover Media