’n Mens moet oefen en gesond eet om gewig te verloor en spiere te bou; die een werk nie sonder die ander nie. Maar wat as jy albei doen en steeds nie die gewenste resultate sien nie?

Dit is mos nie regverdig as jy ure lank met gewigte oefen, maar nooit daardie Jennifer Aniston-arms gaan hê nie? Dalk is dit tyd dat jy meer proteïen inkry.

Proteïen is ’n bousteen van spiere, bene, vel, bloed en kraakbeen. Die liggaam gebruik dit om weefsel te bou en herstel en om ensieme en hormone te produseer; dit kan jou dus ná ’n oefensessie help herstel.

Terwyl proteïenaanvullings tans baie gewild is, is dié skommels en maaltydplaasvervangers nie noodwendig die beste oplossing nie. Soos met die meeste dinge, is die eenvoudigste opsie gewoonlik die doeltreffendste.

Probeer dus liewer jou daaglikse dieet aanpas om jou droom van ’n perfekte lyf te bewaarheid. Daar word aanbeveel dat jy daagliks 1 g proteïen moet eet vir elke 1 kg wat jy weeg. Hieronder is ’n lys van proteïenbronne waarby jou dieet sal baat vind:

Eiers

Geroer, gebak of geposjeer, dit maak nie saak nie. Eiers is een van die beste bronne van proteïen – dis hoekom dit baie gewild is onder spierbouers – en boonop kan jy dit enige tyd van die dag by jou dieet insluit. ’n Middelslag-eier bevat ongeveer 6 g proteïen.

Pluimvee

Hoender- en kalkoenvleis is propvol proteïen en bevat min vet. Dit kan dus ’n lekker maaltyd wees ná jou oefensessie. Vermy egter die vel omdat dit baie vet bevat.

Vis en ander seekos

Vis en ander seekos bevat ook min vet en baie proteïen. Boonop is vis ’n goeie bron van omega-3-vetsure, wat goed is vir jou hart.

Neute

Dié lekkernye het baie voedingstowwe wat jou liggaam benodig, so eet gerus ’n hand vol daarvan ná jou volgende sweetsessie. Veral amandels, pistachio’s en kasjoeneute bevat baie proteïen.

Maer beesvleis

Nie net is ’n maaltyd met biefstuk ’n smaaklike beloning vir jou harde werk nie, dit kan ook baie voordele vir jou liggaam inhou. Jy moet wel skyfies en sous vermy as jy ter wille van jou gesondheid weglê aan so ’n vleisie, wat ook yster en vitamiene B12 bevat.

© Cover Media