:

Dit laat jou liggaamlik beter voel

Die teorie is op pasiënte met fibromialgie (’n langtermyntoestand wat pyn oral oor die liggaam veroorsaak) getoets en die uitslae van die ondersoek is in die vaktydskrif Frontiers in Psychology gepubliseer. Die navorsing het getoon dat wanneer die pasiënte na musiek met ’n tempo van minder as 120 slae per minuut luister, hulle minder pyn en self ’n verbetering in beweeglikheid ervaar. As jy dus ’n bietjie kranklik voel, sit jou gunsteling-musiek op en jy behoort ’n bietjie beter te voel.

Dit laat jou geestelik beter voel

Het jy ’n slegte dag by die werk gehad of onlangs uitgemaak? Stel gelukshormone in jou gestel vry deur ’n sterk liedjie te speel en in die vertrek rond te dans. Die spanning behoort weg te smelt. Vreemd genoeg is daar ook al bewys dat sekere klassieke musiek mense opbeur. Dalk moet jy jou voorliefde vir rap heroorweeg . . .

Jy sal harder oefen

Die meeste mense wat gereeld gaan draf of gim, beweer hulle sou dit nie sonder musiek kon doen nie – en daar steek waarheid in. Daar is wetenskaplik bewys dat jy oefening meer sal geniet en harder sal oefen as jy na motiverende musiek luister. Stel nou ’n speellys op en hou dit gereed vir Januarie, wanneer jy jou ongetwyfeld sal voorneem om gereelder te gaan oefen.

Jy sal beter werk

Is jy senuagtig oor ’n eksamen of voorlegging waarvoor jy voorberei? Musiek kan help. Dit kan jou aandag op die taak help fokus of jou voor die groot dag laat kalmeer. Musiek uit die laat Barok-tydperk hou blykbaar mense gefokus terwyl kalmerende musiek padwoede help bedaar.

© Cover Media